Toetsrugby: All Blacks plof in teen Engeland

Argieffoto van die All Blacks op Ellispark. Foto: GB Jordaan.

Die Engelse rugbyspan se ongelooflike terugvegpoging in Saterdagaand se toetswedstryd teen die All Blacks op Twickenham in Londen, is slegte nuus vir die Springbokspan.

Die Engelse gaan beslis stert in die lug wees nadat hulle met 25-25 teen die All Blacks gelykop gespeel het.

Die Springbokke sluit juis komende Saterdag op Twickenham hul Europese jaareindtoer teen Engeland af en omdat die kragmeting buite Wêreldrugby se amptelike toetsvenster val, gaan die Bokspan verswak wees sonder Cheslin Kolbe, André Esterhuizen, Cobus Reinach, Vincent Koch, Trevor Nyakane, Jasper Wiese en Pieter-Steph du Toit (geskors).

Oor hoeveel Engelse spelers nie beskikbaar gaan wees nie, is daar nog onsekerheid, veral ná Saterdag se gelykopstryd.

Nie baie ondersteuners hou van die Engelse nie, maar lig die hoede vir die span wat met 6-25 agter was met net tien minute se speeltyd oor teen die All Blacks.

Die Engelse het hul konserwatiewe juk afgeskud, begin aanval en drie drieë binne tien minute gedruk.

Ja, die Kiwi’s het met net 14 spelers klaargekom nadat Beauden Barrett ʼn geelkaart gekry het, maar waar die Rose tot die hoogste rat oorgeskakel het, het die All Blacks in hul doppe gekruip, vuisvoos voorgekom met ʼn plaasvervangersbank wat weinig verskil kon maak.

Dit was slegs die derde gelykopuitslag tussen die spanne nadat die kragmeting in 1997 op Twickenham met 26-26 gelykop geëindig het.

Dit was ook die spanne se eerste ontmoeting sedert 2019 toe die Engelse die All Blacks met 19-7 uit die Wêreldbekertoernooi in Japan geboender het.

Die All Blacks het Saterdag skitterend begin en was ná slegs nege minute met 14-0 voor na twee spogdrieë deur Dalton Papali’i en Codie Taylor, wat albei deur Jordie Barrett verdoel is.

Die blitzkrieg het die Engelse tot in hul skoene geskud en daar was vrese dat die All Blacks hul 34ste oorwinning in 43 toetse tussen die lande sou behaal.

All Black-spanne van weleer sou na alle waarskynlikheid die uitklophou geplant het veral nadat Rieko Ioane in die tweede helfte die voorsprong tot 22-6 laat rek het. Toe Beauden Barrett ʼn skepdoel 11 minute voor die einde deurgeklits het om die voorsprong tot 19 punte te rek, was die Engelse teen die planke.

Maar Eddie Jones se Rose het nie boedel oorgegee nie en enduit bly veg.

Hul plaasvervangersbank het ʼn groot verskil gemaak en die plaasvervanger-stut Will Stuart het twee drieë gedruk en die indrukwekkende heelagter Freddie Steward het ʼn derde bygevoeg om die gelykopuitslag te bewerkstellig.

Die wedstrydstatistieke skets die ware prentjie van hoe die All Blacks ingeplof het.

Hulle was rustyd in volle beheer, het besit en gebiedsvoordeel oorheers, 248 meter veld gewen teenoor Engeland se 132.

Maar toe verander die prentjie, want Engeland het met 64%-besit en 54%-gebiedsvoordeel geëindig. Hulle het uiteindelik 550 meter veld gewen teenoor die All Blacks se 348.

Die All Blacks, wat net een duikslag in die eerste helfte verbrou het, het 17 keer in die tweede helfte misgeduik.

Dit het die Nieu-Seelandse silwervaring laat verlep en die Engelse roos laat blom.

Punte: Engeland 25 (3 ): Drieë : Will Stuart (2), Freddie Steward. Doelskoppe: Marcus Smith (2). Strafdoele: Smith, Owen Farrell.

Nieu-Seeland 25 ( 17): Drieë : Dalton Papali’i, Codie Taylor, Rieko Ioane. Doelskoppe: Jordie Barrett (2). Strafdoel: Jordie Barrett. Skepdoel: Beauden Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

vuurvliegie ·

Die All Black’s huil egter nie in sosiale media nie deur die skeidsregters sleg te maak nie. Dis waar die verskil inkom tussen Wenners.

Adriaan ·

Dit is tyd dat skeidsregters moet pa staan vir swak en verkeerde besluite, hulle kan spanne breek, spelers laat ophou en wedstyde draai. Hulle is nie ‘n beskermde spesie nie.

Watsenaam ·

Ek stem nie heeltemal met die volgende stelling saam nie: “Die wedstrydstatistieke skets die ware prentjie van hoe die All Blacks ingeplof het”. Die wedstryd statestiek skets nie altyd die waarheid nie. Ek het al wedstryde gesien waar die wenners, ver tweede gekom het op statestieke en tog wedtsryde gewen het. Hoekom het die wedstryd in die tweede helfte, skielik in die Engelse se guns geswaai. Kyk weer na die wedstryd, die All blacks se gesigte en lyftaal in die tweede helfte het alles gese. Hulle is behoorlik in die tweede helfte uit die spel uit geblaas, Ek het nog nooit n All Black span gesien wat opgee, en wat nie vir 80 minute rugby speel nie. Hoekom het dit skielik verander? Soek die antwoord by die stelsel en die fluitjie blaser en moenie vir my vertel die Engelse was engeltjies nie.

vuurvliegie ·

As die grootste All Black ondersteuner stem ek nie saam nie. As die skeidsregter hulle wel benadeel het sal die All Blacks nie teen die skeidsregter diskrimineer op soliale media soos Rassie nie. Hulle sal net volgende keer dinge beter doen. Rugby is groter as die All Blacks om nie eers te praat van Rassie die nar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.