Tukkies kry weer ʼn bloedneus

Tukkies het sy derde nederlaag op ’n streep in die Varsitybeker gely. Foto: Twitter.

Tukkies, die verdedigende Varsitybeker-kampioenspan, het sy derde nederlaag op ʼn streep gely toe die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT Ixias) hul wedstryd met 41–39 in Bloemfontein geklop het.

Hoewel die Pretorianers ʼn rustydvoorsprong van 23–16 geniet het, het die tuisspan met ʼn paar drieë van hul eie terugbaklei om die kragmeting met twee punte te wen.

Die Ixias het verlede week met Maties in Stellenbosch afgereken en hulle beklee tans die derde plek op die amptelike punteleer, terwyl Tukkies die houtlepel in die laaste plek rondswaai.

  • Puntemakers:

Ixias: Drieë: Francois Bester (2), Jandré de Beer, Ulrich Stander en Daniel Venter. Doelskoppe: Tylor Sefoor (5).

Tukkies: Drieë: Zander Reynders, Ethan Burger, Zenzile Ambesa en Daimon O’Connell. Doelskoppe: Walter Visser (4).

Shimlas wen met ʼn punt in Bloemfontein

Nadat hulle verlede week sleg in Potchefstroom verloor het, is die Shimlas weer terug op die wenpad nadat hulle op hul tuisveld vir Wits met 26–25 getroef het.

Gerswin Mouton se drie het so amper die wedstryd vir die besoekers gewen, maar Christian Humphries se doelskoppoging was onsuksesvol.

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Kwezi Dlamini (2), Nkoka Ngobe en Pierre Uys. Doelskoppe: Ethan Wentzel (3).

Wits: Drieë: Dameon Venter, Christian Humphries en Gerswin Mouton. Doelskop: Humphries. Strafskop: Humphries (2).

Maties kry weer bietjie momentum in Potch

Hoewel daar ʼn paar ondersteuners is wat oor die skeidsregtervertoning sal kla, het Maties vir die NWU-Pukke (oftewel die Arende) met 31–28 in Potchefstroom geklop.

Hoewel die tuisspan ʼn rustydvoorsprong van 19–9 opgebou het, het die Stellenbosch-studente goed in die tweede helfte met ʼn paar drieë terugbaklei. Jurie Matthee se skopskoen het ook die telbord aan die gang gehou.

Die Pukke is die voorste span op die punteleer, terwyl Maties in die vyfde plek is.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Louw Nel en Waqaar Solaan. Doelskoppe: Jurie Matthee (2). Strafskoppe: Matthee (5).

NWU: Drieë: Vernon Paulo (2), Zinedine Robinson en Arminn Posthumus. Doelskoppe: Robinson (3).

UJ te sterk op hul tuisveld vir Ikeys

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het die Kaapstadse Ikeys met 43–24 in die Goudstad ore aangesit.

Met 20 minute speeltyd op die horlosie oor was die telling 24-elk, maar die tuisspan kon na ʼn hoër rat verwissel om die kragmeting uiteindelik op ʼn drafstap te wen.

  • Puntemakers:

UJ: Drieë: Pricne Nkabinde, Tengimgene Likhaya, Buhle Qaba, Francois Pretorius en Mpho Kubheka. Doelskoppe: Joshua Viljoen (5). Strafskoppe: Viljoen (2).

Ikeys: Drieë: Alex Castle, Keagan Blanckenberg en Enos Ndiao. Doelskoppe: Ntokozo Makhaza (3). Strafskop: Makhaza.

  • Varsitybeker-punteleer:
  1. NWU-Pukke: 11 punte
  2. Wits: 11 punte
  3. Ixias: 10 punte
  4. Shimlas: 10 punte
  5. Maties: 9 punte
  6. UJ: 7 punte
  7. Ikeys: 6 punte
  8. Tukkies: 2 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokkie ·

Wanneer laas het ‘n mens die Tukkies reg onderaan ‘n punteleer gesien? Dit ly my die manne konsentreer meer op hulle studies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.