Twee SA’ners gaan wet en orde op sewesveld toepas

Suid-Afrika se AJ Jacobs (Foto: Christiaan Kotze/AFP)

Twee Suid-Afrikaanse fluitjieblasers – AJ Jacobs en Morné Ferreira – is deel van die amptelike HSBC-sewesskeidsregtergroep in aanloop tot die 2024- Olimpiese Spele in Parys.

Die internasionale sewesskouspel het ʼn splinternuwe baadjie aangetrek en die HSBC SVNS-reeks sal uit sewe toernooie en ʼn groot eindstryd bestaan.

Die voorste agt spanne op die punteleer sal sake in die amptelike eindstrydronde in Madrid uitspook waartydens die gouemedaljewenners aangewys sal word.

Jacobs en Ferreira tel onder die 12 skeidsregters wat in die mansafdeling die fluitjieblaaspligte sal behartig. Suid-Afrika is saam met Australië die enigste lande wat met twee verteenwoordigers op die elitepaneel spog.

“Dit is ʼn ervare groep skeidsregters met nege van die 12 lede wat al vantevore in die bekereindstryd van ʼn toernooi in die mansafdeling in aksie was. Elke skeidsregter spog ook met ʼn minimum van 50 reekswedstryde agter sy naam,” het Paddy O’Brien gesê.

Volgens die hoëprestasiebestuurder van Wêreldrugby se sewesskeidsregters, kan die spelers nou met geruste harte op die veld draf.

“Met soveel skeidsregterervaring in hul midde kan spanne die seisoen met selfvertroue aanpak in die wete dat daar bestendigheid op die speelveld sal wees, veral wat die toepassing van reëls betref.”

Mans: Ben Breakspear (Wallis), Paulo Duarte (Portugal), Gianluca Gnecchi (Italië), Francisco González (Uruguay), Nick Hogan (Nieu-Seeland), AJ Jacobs (Suid-Afrika), Reuben Keane (Australië), Adam Leal (Engeland), Tevita Rokovereni (Fidji), Jeremy Rozier (Frankryk), Morné Ferreira (Suid-Afrika) en Jordan Way (Australië).

Vroue: Finlay Brown (Skotland), Craig Chan (Hongkong), Talal Chaudhry (Kanada), Maggie Cogger-Orr (Nieu-Seeland), Lauren Jenner (Nieu-Seeland), Ano Kuwai (Japan), Maria Latos (Duitsland), Jess Ling (Australië), Cisco Lopez (VSA), Tyler Miller (Australië), Kat Roche (VSA) en George Selwood (Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vuurvliegie ·

Skeidsregters het ‘n maklike werkie om ‘n wedstryd te beheer. Die probleem kom gewoonlik in by die toeskouers wat dink hulle ken die rugby reels beter as die skeidsregters. Nogmaal geluk en sterkte aan julle. Hou maak julle ore toe as julle van die veld af is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.