Uitblinker-Springbok nael 60 meter vir topdrie

ʼn Springbok het Saterdag 60 meter ver genael om ʼn uitmuntende drie in die jongste ronde van die reeks om die Europese Kampioenebeker te druk.

Cheslin Kolbe (linkervleuel) se juweeldrie het die Franse klub Toulouse gehelp om die Engelse klub Wasps met 24-16 te verslaan.

Hy het sy vaart deeglik benut om vier verdedigers onderweg doellyn toe te klop, en is op die koop toe as die speler van die wedstryd bekroon.

Sy spanmaat Maks van Dyk (vaskopstut), wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

♦ Suid-Afrikaners het Saterdag 18 punte vir die Franse klub Montpellier aangeteken, maar sy eweknie Toulon het die kragmeting tussen dié twee spanne met 38-28 gewen.

Henry Immelman (linkervleuel) en die Bok Frans Steyn (heelagter) het elk ʼn drie gedruk. Nóg ʼn Bok, Ruan Pienaar (skrumskakel), het al vier Montpellier se drieë verdoel.

Pienaar het Immelman, wat die Vrystaat op o. 21-vlak verteenwoordig het, se drie geskep deur steelkant om ʼn skrum te breek en die bal met ʼn oorslaanaangee aan die vleuel te besorg.

♦ Jaco van der Walt (losskakel) het nege punte – drie doelskoppe en ʼn strafdoel – vir die Skotse superklub Edinburgh teen die Engelse klub Newcastle aangeteken.

Dié gewese SA Skole-speler het Superrugby vir die Lions gespeel.

Edinburgh het die wedstryd met 31-13 gewen.

♦ ʼn Vierde Bok, Marcell Coetzee (agsteman), het ʼn drie vir die Ierse Provinsie Ulster in sy sege van 24-23 oor die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) gedruk.

♦ Jaco Visagie (haker) het een van die Engelse klub Gloucester se drie drieë teen Exeter gedruk.

Gloucester, wat deur die Springbok Johan Ackermann afgerig word, het ʼn goeie oorwinning van 29-17 oor die Engelse kampioen behaal.

Visagie word deur die Bulls aan die Engelse klub geleen.

Don Armand (flank), ʼn Engelse toetsspeler wat Superrugby vir die Stormers gespeel het, het ʼn drie vir die verloorspan gedruk.

♦Die Bok Charl McLeod (bankskrumskakel) het ʼn drie vir die Franse klub Lyon in sy nederlaag van 22-42 teen die Skotse superklub Glasgow Warriors gedruk, en luidens berigte ʼn deurslaggewende rol in nog een gespeel.

Huw Jones, ʼn gewese Stormers-speler, wat toetsrugby vir Skotland speel, het ʼn drie vir die wenspan gedruk.

♦ CJ Stander (Munster), ʼn oud-Bulls-speler en ʼn toetsspeler van die Britse en Ierse Leeus en van Ierland, het met brute krag een van die Ierse provinsie Munster se drie drieë teen die Franse klub Castres gedruk.

Die span wat deur ʼn gewese Bokhulparigter, Johann van Graan, gebrei word, het die Franse kampioen met 30-5 gelooi.

Europese Uitdaagbeker

♦ Die Springbok Morné Steyn (losskakel) het tien punte vir Stade Français aangeteken, maar die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) het die Franse klub met 51-20 opgedreun.

Hy het twee doelskoppe en twee strafdoele in punte omskep.

♦ Jaco van Tonder (bankslot) het ʼn drie vir die Franse klub Clermont teen die Roemeense kampioen Timoşoara Saracens gedruk in ʼn kragmeting in die reeks om die Europese Uitdaagbeker wat sy span met 47-14 oorheers het.

Die 20-jarige Van Tonder het as ʼn leerling van Grey Kollege, Bloemfontein, vir die SA Skolespan gespeel, voor hy hom by Clermont se akademie gevoeg het.

♦ Gert Meyer (bankflank) het ʼn drie bygedra tot die Italiaanse klub Zebre (Parma) se oorwinning van 31-14 oor die Russiese kampioen Jenisei-STM Krasnojarsk.

Meyer, wat sy toetsbuiging verlede maand gemaak en Italië sedertdien vier keer verteenwoordig het, het Curriebeker-rugby vir die Sharks gespeel.

Franse Pro D2-liga

♦ Hansie Graaff (heelagter) het twee strafdoele tot Massy se telling in sy nederlaag van 9-15 teen Montauban bygedra.

Graaff het Curriebeker-rugby vir die Griffons en die Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Pieter-Steyn de Wet (losskakel), ʼn gewese Kings-speler, het ʼn strafdoel vir Aurillac behaal en die Blitsbok Shaun Adendorff (agsteman) is met ʼn geel kaart gestraf in hul span se nederlaag van 17-23 teen Vannes.

♦ Tristan Tedder (banklosskakel), wat die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het, het eweneens ʼn strafdoel vir Bayonne in sy sege van 6-0 oor Colomiers behaal.

♦ Edwin Hewitt, ʼn slot van Biarritz, wat die Sharks in Superrugby verteenwoordig het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se nederlaag van 21-13 teen Beziers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.