Uitdaagbeker-reeks: Sharks in halfeind na sege oor Edinburgh

(Grafika: @SharksRugby/Twitter)

Nog net twee oorwinnings!

Dit is wat tussen die Sharks se rugbyspan staan om die Europese Uitdaagbekerreeks te wen en om dan aanstaande seisoen in die geldryke Europese Bekereeks te speel.

Die Sharks, wat 13de van 16 spanne in die Verenigde Rugbykampioenskappe is, het Edinburgh Saterdagmiddag op Kingspark met 36-30 in die kwarteindronde van die Uitdaagbekerreeks geklop.

Die Sharks het geskiedenis gemaak, want hulle is die eerste Suid-Afrikaanse span wat in die halfeindronde van die reeks speel.

Die Sharks speel nou in die halfeindronde teen Clermont, wat UIster  Saterdag met 53-14 afgeransel het.

Volgens die kompetisiereëls kan ʼn Suid-Afrikaanse span nie tuis in die halfeindronde of eindstryd speel nie, wat beteken dat die Sharks na Frankryk sal moet vlieg om Clermont te pak.

Die Sharks se wenmomentum het Saterdag voortgeduur toe hulle Edinburgh oorheers het.

Die Skotte, wat sewe keer in die eerste helfte gestraf is, is in die skrums verfomfaai en agterlangs is hulle agter die voordeellyn deur die Sharks se opskietverdediging gefnuik.

Die Sharks, wat 12 Springbokbokke in hul groep van 23 spelers gehad het, het weer by die basiese beginsels gehou en eers voor saggemaak voordat daar agterlangs geslaan is.

Ox Nche, Bongi Mbonambi, Vincent Koch was ysters in die skrums en Eben Etzebeth en Vincent Tshituka vurig soos altyd.

Die skrumskakel Jaden Hendrikse en die losskakel Siya Masuku, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, het die Skotte met puik taktiese skoppe onder druk gehou.

Verder agterlangs was Aphelele Fassi, Werner Kok en Makazole Mapimpi baie gevaarlik, met die jongeling-senter Ethan Hooker wat weer langs Lukhanyo Am uitgeblink het.

Van Am gepraat, sy kalmte en ervaring, goeie verdediging en vermoë om kanse te skep, moes sy aandele by die Springbokafrigter Rassie Erasmus laat styg het wanneer hy oor die Bokke se kapteinskap gesels.

Puntemakers: Sharks 36 (14): Drieë: Lukhanyo Am, James Venter, Makazole Mapimpi. Doelskkoppe: Siya Masuku (3). Strafdoele: Masuku (4), Curwin Bosch.

Edinburgh 30 (16): Drieë: Pierre Schoeman, Hamish Watson, Dave Cherry. Doelskoppe: Ben Healy (3). Strafdoele: Healy (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.