Uitdaagbekerreeks: Sharks trap pedaal teen Oyonnax in

OX Nche (Foto: @SharksRugby/Twitter)

Die Sharks is terug op die wenpad nadat hulle Oyonnax met 38-7 in Durban in die Europese Uitdaagbekerreeks geklop het, maar dit was straks nie ʼn vertoning wat die toeskouers na Kingspark sal teruglok nie.

Die warm, bedompige weer en baie hoë humiditeit het grootliks bygedra tot die rits hanteerfoute wat albei spanne begaan het, want dit was uiters moeilik om ʼn seepgladde bal te hanteer.

Kom ons wees eerlik, sulke toestande dra beslis nie by tot aanskoulike rugby nie.

Omdat daar soveel onderbrekings was (ook verpligte waterbreke) was daar baie min kontinuïteit.

Eintlik moet ʼn mens dus die hoed lig vir die Sharks se bonuspuntsege.

Die Franse besoekers was poegaai in die hitte nadat hulle slegs ʼn paar dae gelede nog met sneeutoestande tuis te doene gekry het.

Die groot ligpunte vir die Sharks was hul ses drieë, hul verdediging en die opflikkering in die vertonings van sterspelers soos Ox Nche.

Nche is as Speler van die Wedstryd aangewys nadat hy twee drieë gedruk het.

Makazole Mapimpi het ook twee drieë gedruk en tekens van sy goeie peil getoon wanneer hy in die groen-en-goud uitdraf.

Dit was die Sharks se tweede oorwinning in die reeks en het die agterdeur oopgehou om tot die uitkloprondes deur te dring.

Tuis gaan hulle ʼn groot voordeel hê in die warm bedompige weer, maar geoordeel aan die aantal foute wat hulle begaan het, hang daar steeds vrae oor hul spelpeil.

Tog was daar ʼn hele paar stukkies goeie spel deur Aphelele Fassi, Werner Kok en Curwin Bosch agterlangs, terwyl die flank Lappies Labuschagne straks sy beste vertoning vir die tuisspan gelewer het.

Daarteenoor het dit nooit gelyk asof die besoekers die Sharks sou kon klop nie.

Hulle het swak gespeel, baie foute begaan, takties swak en onnodig geskop en ʼn hele paar kanse om punte aan te teken, deur hul vingers laat glip.

ʼn Mens kon sien hoekom Oyonnax 12de van 14 spanne in die Franse top-14 is.

Puntemakers: Sharks 38 (19): Drieë. Ox Nche (2), Makazole Mapimpi (2), Lukhayno Am, Lappies Labuschagne. Doelskoppe: Curwin Bosch (4).

Oyonnax 7 (0): Drie: Thibault Berthaud. Doelskop: Justin Bouraux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.