Die Valke het Vrydag grootliks verras in die Curriebeker- Eerste Liga; en nou is dit nog net die Boland wat kaarte deurmekaar kan krap.
Dat die tuisspan in Brakpan die Luiperds met 44-19 sou oorheers, het waarskynlik nie eens sy grootste ondersteuners kon voorspel nie. Hy was rustyd reeds met 24-10 voor.
Soos verwag is, het die Suidwestelike Distrikte die Oostelike Provinsie in George met 66-22 verniel, nadat hy met die omdraaislag reeds met 40-10 voorgeloop het.
Dit beteken dat die Valke in die tweede plek op die punteleer inskuif, die Luiperds derde plek toe val, en die SWD voorlopig die vierde plek inneem.
Die Boland kan egter nog die Arende se plesier bederf deur Saterdag op Swakopmund met die Welwitschias af te reken.
Dat die onoorwonne Griffons in Oos-Londen teen die Grens kan vasval, is redelik ondenkbaar, maar sou die onwaarskynlike gebeur, sal dit geen uitwerking op die samestelling van die halfeindronde hê nie.
Die losskakel Warren Potgieter (Valke) en die heelagter Leighton Eksteen (SWD) het onderskeidelik 17 en 16 punte met die skoen aangeteken; en die Arende se losskakel, Martin du Toit, het drie drieë gedruk.
Potgieter het vier doelskoppe en drie strafskoppe in punte omskep.
Eksteen se bydrae het uit agt doelskoppe bestaan.
Die puntemakers –
Valke 44 (24) – Drieë: Jan-Frederik Enslin, Shane Kirkwood, Martin Sithole, Grant Janke, Don Mondobozi. Doelskoppe: Warren Potgieter (4), Andries Truter. Strafdoele: Warren Potgieter (3).
Luiperds 19 (14) – Drieë: Jos Smith, Bradley Moolman, Dean Gordon. Doelskoppe: Schalk Hugo (2).
SWD 66 (40) – Driee: Kurt Haupt, Janneman Stander (2), Martin du Toit (3), Adri Jacobs (2), Marquit September, Jacques Vermaak. Doelskoppe: Leighton Eksteen (8).
OP 22 (10) – Driee: Victor Sekekete, Jarryd Sage, Harlon Klaasen (2). Doelskop: Sonwabo Majola.