Van Rooyen loof sy Lions-trop

Die Lions het ’n begeesterde vertoning op aanval en verdediging teen Leinster gelewer. (Foto: X/Leinster)

Ja, daar was 13 veranderinge aan die Leinster-span gemaak wat met La Rochelle in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker afgereken het, maar die Lions het steeds ʼn barshou teen die Ierse rugbyreuse gespeel.

Die tuisspan het kliphard op Ellispark gebrul en terstond ses drieë gedruk om die kragmeting met 44 – 12 te beklink.

Volgens Ivan van Rooyen verdien sy spelers ʼn groot klop op die skouer.

“Ek is die trotsste op hul veggees en hul verdediging. Elke speler het sy hand opgesteek om Leinster weg van die doellyn te hou,” het die Lions-afrigter gesê.

Hy meen dat dit karaktergewys sy span se beste vertoning van die seisoen was.

“Dit was veral lekker om te sien hoe ons drieë met ons teenaanvalle kan druk. Wanneer jy as ʼn verdedigingseenheid hard werk, moet jy elke geleentheid met al twee hande aangryp.”

“Maar dit het op ʼn stadium gelyk of ons vir hulle punte wíl gee. As jy gereeld vir ʼn span soos Leinster aanvalsgeleenthede in die gevaarsone gee, dan moet jy uitstekend kan verdedig. Ja-nee, ek is die trotsste op ons verdediging.”

In die geheel het Leinster 66% balbesit geniet, terwyl die Iere ook met 76% die gebiedsvoordeelmeesters was. Maar die Johannesburgers het 183 duikslae uitgevoer met ʼn uitstekende plattrektempo van 88%.

Die Lions is tans 11de op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer met 39 punte. Maar Ulster (39 punte), Connacht (39 punte), Edinburgh (39 punte), Ospreys (40 punte) en die Stormers (40 punte) is ongetwyfeld binne trefafstand.

Die Lions speel volgende naweek teen Munster op Ellispark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ek is ‘n trots en stoere Leeu ondersteuner.en het breed geglimlag na die skitter oorwinning,maar Munster lê nou voor.Dit is ‘n moet wen vir die leeus om hulle plek in die uitspeelwedstryde te bespreek.Munster het ook nie hulle sterkste span SA toe gebring nie en het die flou bulle geklop.Doen so voort Leeus(nie meer welpies) nie.

kragaap ·

Toe wys die leeus vir bulle en stompies hoe dit gedoen word.

Niklaas ·

Ek dink Leinster het hul topspelers laat rus. Daar was feitlik geen bekende ster in hul Saterdag span teen die Lions nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.