VRK-reeks: Bulls spoel oor Connacht

(Foto: GB Jordaan)

ʼn Mens kla mos g’n met ʼn witbrood onder die arm nie.

Die Bulls het Saterdag op Loftus Versfeld hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap teen Connacht met 53-27 gewen nadat hulle rustyd reeds met 32-13 voor was.

Die uitslag was nooit in die gedrang nie, want Connacht sou nie in die hitte die Bulls se monster-pak kon baasraak nie.

Die Bulls se pak, aangevuur deur Wilco Louw, Akker van der Merwe, Ruan Nortje, Marco van Staden en Elrigh Louw het die bresse geslaan.

(Foto: GB Jordaan)

Agterlangs was die losskakel Jaco van der Walt (hy is as speler van die wedstryd aangewys), Stedman Gans en Willie le Roux, wat sy buiging vir die Bulls gemaak het, heel skaflik.

Die Bulls het gedoen wat hulle wou en moes. Hulle het reeds in die eerste helfte ʼn bonuspunt verwerf en glad nie van hul wedstrydplan afgewyk nie.

Ja, daar was ʼn paar hanteerfoute, soms ʼn verkeerde besluit of twee op die aanval en een of twee keer is daar dalk te ver met die bal gehardloop. Maar daar is selde van die meesterpatroon van suksesvolle rugby afgewyk.

Sagmaak voor, dryf, skrum en maal, kom oor die voordeellyn en pen die teenstanders in hul eie gebied vas.

Ja, daar sal wel diegene wees wat oor die oorwinning kla, wat sal brom omdat die Bulls ʼn geel kaart gekry het (wat Akker van der Merwe straks nie verdien het nie) en dat daar te veel op die veld gepraat word.

Maar meer as 50 punte teen ʼn span wat nooit gaan lê het nie, wat verlede seisoen in die halfeindronde was en die Sharks verlede Saterdag in Durban geklop het, is mos glad nie te versmaai nie.

Puntemakers:

Bulls 53 (32): Drieë: Akker van der Merwe, Elrigh Louw, Willie le Roux, Nizaam Carr, David Kriel, Chris Smith. Doelskoppe: Jaco van der Walt (5), Chris Smith. Strafdoele: Van der Walt (2).

Connacht 27 (13): Drieë: Diarmuyd Kilgallen, Tadgh McElroy, Shamus Hurley-Langton. Doelskoppe: Jack Carty (2), JJ Hanrahan. Strafdoele: Carty (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.