VRK-reeks: Connacht doof Lions se ligte uit

The Sportsground in Ierland. (Foto: Connacht/Facebook)

Enige rugbyspan se grootste bate is sy tuisveld, of altans so behoort dit te wees.

Soos Fort Loftus vir die Blou Bulle en Bulls in Pretoria, die ou Nuweland-stadion vir die Westelike Provinsie en Stormers in Kaapstad en Ellispark vir die Leeus en Lions in Johannesburg.

Saterdagaand in Galway het die Lions weer deeglik kennis geneem van The Sportsground, ʼn piepklein stadion in die Weste van Ierland, toe die tuisspan, Connacht, sy wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap met 43-24 gewen het.

The Sportsground, wat op Vrydae en Saterdagaande ook die hoofkwartier vir windhondrenne is, het sy naam as die Connacht-rugbyspan se grootste bondgenoot gestand gedoen.

Sedert die Suid-Afrikaanse spanne ʼn paar jaar gelede in die VRK-reeks begin speel het, kon hulle nog nie een keer wen nie, en dit het Saterdagaand ook nooit so gelyk nie.

Connacht het van die begin as die leisels styf ingetrek. Hulle het binne twee minute die voortou geneem nadat Diarmuid Kilgallen ʼn drie gedruk het, en het voortgegaan en op volle vaart hul bewegings uitgevoer, 64% van die besit gehad en 70% van die gebiedsvoordeel teen die Lions geniet.

Hulle het kort voor rustyd ʼn geel kaart gekry, maar dit het Tiernan O’Halloran nie gekeer om nog ʼn drie te druk nie .

Hulle was rustyd reeds met 29-17 voor en hoewel die Lions enduit bly veg het, het dit nooit gekyk asof die groen diskoligte wat aan en af geskakel word wanneer Connacht punte aanteken nie, uitgedoof sou word nie.

Connacht het met sy bonuspunt-sege tot tiende op die puntelys met 30 punte opgeskuif.

Die Lions, wat drie van sy vier wedstryde op sy lang, koue en reënerige toer in Wallis, Frankryk en Ierland verloor het, is 12de met slegs 24 punte en het na alle waarkynliheid geen kans om vir die topagt te kwalifiseer nie.

Die Lions het darem verlede Saterdag vir die uitspeelrondes van die Europese Uitdaagbekerreeks gekwalifiseer toe hulle die Dragons in Newport geklop het om die toer draagliker te maak.

Die Lions het weer onder die beseringspook deurgeloop toe Darrian Landsberg en Henco van Wyk ook Saterdag beseer is.

Maar daar was ondanks die slae darem ʼn paar ligpunte, soos die vertonings van Marius Louw, Van Wyk en Edwill van der Merwe agterlangs. Voorlangs het die stutte Ruan Smith en Asenathi Ntlabakanye en die haker PJ Botha hard gespook, maar die oormag was te veel.

Punte: Connacht 43 (17): Drieë: Diarmuid Kilgallen, Shane Delahunt, Caolin Blade (3), Tiernan O’Halloran. Doelskoppe: Jack Carty (5). Carty.

Lions: 24 (17) Drieë: Asenathi Ntlabakanye, Henco van Wyk, Marius Louw. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3); Strafdoel: Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.