VRK-rugbyreeks: Trane vir Ierse spanne

Cardiff Rugby het Saterdagaand in die Walliese hoofstad die agtmalige kampioen, Leinster, met 29-27 geklop. (Foto: Cardiff Rugby, Twitter)

Dit was ’n goor Saterdag vir Ierse rugby toe twee van hul topspanne, Leinster en Connacht, slae gekry het in die Verenigde Rugbykampioenskap.

Cardiff Rugby het Saterdagaand in die Walliese hoofstad die agtmalige kampioen, Leinster, met 29-27 geklop nadat Jarrod Evans met ʼn doodsnikstrafdoel geslaag het om sy span te laat seëvier.

Albei spanne moes sonder hul internasionale spelers klaarkom wat van komende naweek in die Sesnasies-reeks speel, maar Cardiff, wat sy vorige vier wedstryde teen Leinster op ʼn streep verloor het, het genoeg diepte, vernuf en plofkrag gehad om bo uit te kom.

* Die Glasgow Warriors het Connacht op sy tuisveld met 42-20 geklop om tweede op die VRK-puntelys na Edinburg in te skuif.

Die Suid-Afrikaner Kyle Steyn was een van die Warriors se uitblinkers toe hy ʼn drie gedruk het en met sy algemene spel uitgeblink het.

* Munster het darem vir die Ierse treurmare vergoed toe hy die Italiaanse Zebre-span met 34-17 in Parma geklop het.

Dit was Munster se sesde oorwinning in sy laaste agt VRK-wedstryde en dit moes groot genoegdoening aan die oud-Affie Johann van Graan verskaf het wat oor ʼn paar maande na Bath in Engeland as afrigter oorskuif.

* Ulster, met Duane Vermeulen aan die spits, het Vrydagaand in Belfast ʼn sege van 27-15 oor die Scarlets behaal.

Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jaco Peyper het kwaai deurgeloop toe hy ʼn geel kaart aan Graig Gilroy, vleuel van Ulster gegee het nadat hy Tom Rogers (Scarlets) met die skouer uitgehaal het.

Baie ondersteuners het gevoel dat dit rooi moes gewees het veral nadat Rogers se kop agteroor geruk het. Hy kon weens harsingskudding nie voortspeel nie.

* Edinburgh, ondanks sy nederlaag van 19-23 teen die Ospreys in Swansea, is steeds die voorloper in die reeks omdat Leinster slae gekry het.

Die oud-Cheetah-stut Boan Venter was die groot uitblinker toe hy ʼn driekuns aan drieë vir Edinburgh behaal het. Dit het ʼn mens opnuut laat besef dat Suid-Afrikaanse spelers se besluit om hul loopbane oorsee voort te sit, die regte een is, want hulle kry die kans om gereeld te speel en hul vaardighede verder te ontwikkel.

Benetton en die Walliese Dragons het Vrydagaand met 13-13 gelykop gespeel.

* Na die naweek is Edinburgh (34 ligapunte) steeds voor, gevolg deur Glasgow (31), Ulster (31), Leinster (30) en Munster (29).

Die Sharks vaar die beste van die Suid-Afrikaanse franchises en het 16 punte (10de), gevolg deur die Stormers (14 punte, 13de), Bulls en Lions (albei 12 punte, 14de).

Die boonste agt spanne dring tot die uitspeelrondes van die reeks deur, maar wat belangrik is, is dat elke streekwenner (die vier Suid-Afrikaanse spanne ding in een mee) aanstaande seisoen in die geldryke Europese Kampioenebeker-reeks teen die keur van Engelse en Franse rugby speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.