Wêreldbeker: Hane (ook maar net) en Wallabies seëvier

Argentinië se Emiliano Boffelli (links) en Damian Penaud van Frankryk (21 September 2019) (Foto: AP Photo/Eugene Hoshiko)

Wanneer die Franse rugbyspan die dag kook, is die Hane ʼn lus vir oog, maar as hulle nie daarmee volhou nie, gee hulle hul ondersteuners erg sooibrand.

Frankryk het Saterdag in Tokio sy rillerwedstryd in Groep C van die Wêreldbekertoernooi teen Argentinië naelskraap met 23-21 gewen, maar dit byna uit die sakkie laat glip.

Die Hane, aangevuur deur talentvolle jongelinge soos Romain Ntamack, Antoine Dupont en Damian Penaud, het die Poemas oorheers en was rustyd met 20-3 voor.

Maar toe skakel hulle in die tweede helfte af terwyl die Poemas oorgeneem het.

Die bruisende Poemas was tien minute voor die einde met 21-20 voor, maar ʼn skepdoel deur die Franse plaasvervanger-losskakel, Camille Lopez, het die Franse laat wen.

Tog kon die Poemas in die laaste minuut die sege beklink het as Emiliano Bofelli nie sy strafskop links verby die dwarspaal getrek het nie.

Nadat die eindfluitjie geblaas het, het die spelers van albei spanne mekaar bevlieg van pure frustrasie en opgekropte emosie.

Punte: Frankyk 23 (20): Drieë: Gaul Fickou, Antoine Dupont. Doelskoppe: Romain Ntamack (2). Strafdoele: Ntamack (2). Skepdoel: Camille Lopez.

Argentinië: 21 (3): Drieë: Guido Petti, Julian Montoya. Doelskoppe: Nicolás Sánchez (2). Strafdoele: Sánchez, (2), Benjamín Urdapilleta.

 

Australië se Samu Kerevi (links) en Fidji se Semi Radradra (21 September 2019) (Foto: Masanori TakeiKyodo News via AP)

In Sapporro het Australië eers diep in die tweede helfte die oorhand in sy kragmeting oor Fidji gekry en met 39-21 gewen.

Die rustydtelling was 14-12 in Fidji se guns en die Wallabies kon eers in die 62ste minuut die eerste keer die voortou in dié wedstryd in Groep D neem.

Die Wallabies se plaasvervangersbank, veral die skrumskakel Will Genia en die losskakel Matt Toomua, het die verskil gemaak algaande die Fidjiane se stoom opgeraak het.

Fidji se gebrek aan fiksheid is ontbloot en toe het hul dissipline ook begin lol het omdat hul konsentrasie daarmee heen was is die slag geslaan.

ʼn Geelkaart het ook niks gehelp nie, want die Fidjiane kon toe nie meer al die gate toestop nie.

Waar Fidji in die eerste helfte vol vuur was, ordentlike duikslae uitgevoer het en met hul vaart en hanteerwerk oortuig het, het die Wallabies dié rol oorgeneem en ses puik drieë gedruk.

* Punte: Australië: 39 (12): Drieë: Tolu Latu (2), Michael Hooper, Reece Hodge, Samu Kerevi, Marika Koroibete. Doelskoppe: Matt Toomua (2), Christian Lealiifano. Strafdoel: Reece Hodge.

Fidji 21 (14): Drieë: Peceli Yato, Waisea Nayacalevu. Doelskop: Ben Volavola. Strafdoele:  Volavola (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.