Wêreldbeker: Skotte vermorsel Roemenië

(Foto: Marty Melville/AFP)

Daar wag baie werk op Wêreldrugby se reëlmakers om toe te sien dat alle lande instem om binne die reëls te duik.

Dit het Saterdagaand in Lille soos ʼn seer oog uitgestaan toe Skotland ʼn wegholoorwinning van 84 – 0 oor Roemenië in Groep B van die Wêreldbekertoernooi behaal het.

Dit was die Skotte se tweede grootste oorwinning nóg in ʼn WB-toernooi nadat hulle in 1995 in Rustenburg, Suid-Afrika, ʼn oorwinning van 89 – 0 oor Ivoorkus behaal het. Hulle het toe 13 drieë gedruk.

Die Skotte het Japan in 2004 met 100 – 8 vir hul grootste oorwinning nóg in toetsrugby geklop.

Die Skotte het Saterdagaand 12 drieë gedruk en die deur op ʼn skrefie oopgehou om vir die kwarteindronde te kwalifiseer. Dit kan gebeur as hulle komende Saterdag in Parys daarin kan slaag om Ierland met ʼn bonuspunt-sege te klop en toe te sien dat die Iere nie ʼn bonuspunt verdien nie. Boonop moet die Springbokke nie Sondagaand ʼn bonuspuntsege oor Tonga behaal nie.

Roemenië, wat in drie wedstryde in vanjaar se WB-toernooi reeds 242 punte afgestaan het en net agt punte aangeteken het, sal dringend moet terugkeer tekenbord toe, want om vir ʼn lank ruk met net 12 spelers klaar te kom weens onwettige skouer-teen-die-kop-duikslae, is ʼn baie groot probleem.

Geen span kan sonder drie spelers (Robert Irimescu, Florian Rosu en Marius Simionescu) klaarkom nie. Die Oaks, soos die span bekend staan, het met 15 -man gesukkel, wat nog van 12 spelers teen 15?

Roemenië, wat by die WB-toernooi ingeglip het nadat Spanje uitgeskop is oor die verbreking van verblyfkwalfikasies, was heeltemal onvoorbereid.

Tog moet ʼn mens jammer voel vir die spelers, wat soos lammers na die slagpale gelei is.

Die Skotte het nie hul aandag laat aftrek nie en het binne die reëls gehou. Ja, dis seker maklik as jy net teen 12 of 13 spelers speel en die hele tyd op die voorvoet is, maar lig tog die hoede vir die Skotte.

Die afrigter, Gregor Townsend, het 13 veranderings aan die span aangebring ná die vorige wedstryd en kan baie tevrede wees met sy diepte.

Saterdagaand se keur was die heelagter Ollie Smith, die kwiksilwer-vleuel Darcy Graham (hy het vier drieë met sy vaart, voorgevoel en systappe gedruk), asook Kyle Steyn, die senters Sam Harris en Cam Redpath en die skakelpaar Ben Healy en Ali Price.

Voorlangs was dit eenrigtingverkeer, want hoe weeg jy ʼn span met 15 spelers op teen 12?

Nogtans was die Skotte se woelige Hamish Watson, Grant Gilchrist en Sam Skinner kookwater.

Puntemakers: Skotland 84 (42): Drieë: Hamish Watson, Ali Price, Darcy Graham (4), Matt Fagerson, Chris Harris, Ollie Smith, Ben Healy, Jonny Matthews, Rory Darge. Doelskoppe: Healy (11), George Horne.

Roemenië: 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.