Wêreldbeker: Wat gebeur as Pollard nie fiks is?

Handré Pollard (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Een van die belangrikste boustene van enige sportsoort is wedstrydoefening.

In boks word daar gesê dat jy soveel kan skerm soos wat jy wil, maar dat tyd in die middel van die kryt (ʼn geveg) die belangrikste is. In krieket word daar gesê dat jy elke dag in die nette kan oefen, maar dat jy tyd in die middel (wedstryd) moet deurbring.

Rugbyspelers kan oor dieselfde kam geskeer word: jy kan oefen soveel as wat jy wil, maar as jy wedstrydoefening kort, is daar perde.

Dít is hoekom die tameletjie met die Springbok-losskakel Handré Pollard al hoe taaier raak.

Pollard, wat maande laas vanweë ʼn knie- en kuitbesering gespeel het, is volgens die Springbokkamp baie na daaraan om sy plek vol te staan. Maar hy bly in ʼn wedloop teen tyd gewikkel voor die Wêreldbekertoernooi oor sowat ses weke in Frankryk afskop.

Die Bokke speel nog in net drie opwarmwedstryde: komende Saterdag teen Argentinië in Buenos Aires, op Saterdag 19 Augustus teen Wallis in Cardiff en op Vrydag 25 Augustus teen die All Blacks op Twickenham.

As alles volgens plan verloop, sal Pollard hopelik teen Wallis en die All Blacks speel voor die Springbokke Skotland op 10 September in hul eerste Wêreldbekerwedstryd in Marseille pak.

As Pollard nie fiks is nie, sal Damian Willemse of Manie Libbok sy skoene moet vol staan. Libbok was in die Bokke se beginspan teen die Wallabies en Poemas en Willemse het teen die All Blacks die nr. 10-trui gedra.

Het een van hulle genoeg gedoen om teen die Iere, Franse of All Blacks in Frankryk te speel? Het hulle genoegsaam oortuig? Kan hulle die wedstryd oorheers en in die sakkie toeknoop wanneer dit werklik saak maak? Albei het borrelende talent, maar is dit genoeg? Wat van skoppe pale toe onder druk? Wat van kantlynskoppe?

Pollard het reeds in 2014 sy buiging vir die Bokke teen Skotland gemaak. Hy het in 68 toetswedstryde (waarvan hy 54 keer in die beginspan was) altesame 665 punte aangeteken. Die Bokke het 38 keer met hom in die span gewen, drie keer gelykop gespeel en 27 keer verloor, vir ʼn wenrekord van minder as 60%.

Vergelyk dit met Ierland se Johnny Sexton (62,73%-wenrekord), die Franse se Romain Ntamack (66,66%-wenrekord) en die All Blacks se Richie Mo’unga (80%-wenrekord).

Dit is hoekom die gevaarligte moet flikker, veral as Pollard nie genoegsaam herstel het óf behoorlik wedstrydfiks is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Hy het baie talent en kort net ‘n tydjie in ‘n wedstryd om op dreef te kom. Maar beseerde spelers moet nie na die wereld beker toernooi geneem word vir deelname nie , behalwe as ‘n toeskouer.

kragaap ·

Groot probleme want daar is nou niemand wat sy skoene kan volstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.