Wêreldbeker-wenners, paar nuwelinge in Nienaber se Bokspan

Handré Pollard en Siya Kolisi. Foto: Odd Andersen/AFP.

Jacques Nienaber het sy eerste vyftiental as Springbok-afrigter vir die komende toets teen Georgië op Loftus Versfeld gekies.

Tussen ’n hele paar bekende gesigte kan opwindende nuwelinge soos Rosko Specman, Aphelele Fassi en Jasper Wiese hul buiging vir die Springbokke maak.

Volgens Nienaber is hy opgewonde om te sien wat sy span op die veld kan doen nadat hulle 19 maande gelede – toe hulle die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het – laas rugby op die internasionale verhoog gespeel het.

“Ons verwag ’n fisieke aanslag van Georgië en ons sal vinnig ons voete moet vind om goeie rugby vir 80 minute te speel,” het Nienaber gesê.

Vir die meeste Springbok-ondersteuners sal dit net lekker wees om vir spelers soos Willie le Roux, Eben Etzebeth, Handré Pollard en Cobus Reinach op Suid-Afrikaanse bodem te sien, terwyl Kwagga Smith op agtsteman in die beseerde Duane Vermeulen se plek sal uitdraf.

Daarbenewens kan “Specmagic” ongetwyfeld ’n lekker aanvallende opsie vir Nienaber wees.

Rosko Specman. Foto: GB Jordaan

Op 32-jarige ouderdom is die Blitsbok-ster nog vinnig genoeg om hakskene vir die meeste verdedigers te wys, rats genoeg om hulle te fnuik wanneer hulle dit die minste verwag en wys genoeg om al sy sterk punte doeltreffend tot die voordeel van ’n span te gebruik.

“Ons sien uit na die dinge wat die nuwelinge na die partytjie bring nadat hulle indrukwekkende vertonings vir hul franchise-spanne gelewer het. Hulle het almal gewys dat hulle ’n kans op die hoogste vlak verdien, terwyl hulle met hul entoesiasme en toewyding tydens ons oefensessies beïndruk het.”

Maar aan die einde van dag is die uiteindelike doel die wedstryde teen die Britse en Ierse Leeus en Nienaber sal die komende Georgië-toetse wil gebruik om die gereedheidswaters te toets.

Terme soos “wedstrydgereedheid” en “vermoë om onder druk te presteer” is immers gereeld in die aanloop tot die toets gebruik.

  • Die wedstryd begin Vrydag om 19:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke teen Georgië: Willie le Roux (heelagter), Rosko Specman (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Frans Steyn (binnesenter), Aphelele Fassi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Kwagga Smith (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Marvin Orie, Jasper Wiese, Herschel Jantjies, Elton Jantjies en Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.