Wêreldbekertoernooi: Is Manie pure (Lib)Bok?

Manie Libbok op die aanval teen die Wallabies. (Foto: GB Jordaan)

Manie Libbok behoort soomloos die mas in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi op te kom, want die Springbokke se voorspelers sal die grondslag lê en die skrumskakel Faf de Klerk sal hom genoegsaam kan beskerm, of so word daar allerweë gehoop.

Nadat Handré Pollard verrassend weens ʼn kuitbesering nie in die WB-groep van 33 ingesluit is nie, het die keuse op Libbok as die enigste losskakel geval, want hy was sonder twyfel die beste Suid-Afrikaanse losskakel in die Verenigde Rugbykampioenskappe.

Libbok het vanjaar in die groepronde van die VRK 167 punte in 16 wedstryde aangeteken en het dit opgevolg met ʼn puik vertoning teen die Bulls in die kwarteindronde.

In die halfeindronde teen Connacht het hy 23 punte aangeteken.

Libbok lees die spel baie goed, hy is koelkop, vinnig en sy balverspreiding en skopaangeë het tot baie drieë gelei.

Maar daar is ook vrae oor sy vertonings (twee keer) teen Munster vanjaar, toe hy onder groot druk geplaas is.

Libbok, wat vir die Oostelike Provinsie se o.16-span in 2013 gespeel het, het na George verhuis waar hy as leerling aan die Hoërskool Outeniqua twee jaar in 2014 en 2015 die SA Skolespan gehaal het.

Hy het in 2016 sy buiging vir die Suid-Afrikaanse o.20-span op vleuel teen Wallis gemaak en is saam met Curwin Bosch tussen heelagter en losskakel rondgeskuif.

Hy het sy loopbaan in Pretoria voortgesit, maar dit het nooit werklik vlam gevat nie.

Hy het na Durban oorgeskuif waar hy tussen 2020/’21 ook sonder te veel welslae vir Sharks en Haaie gespeel het.

Hy het toe na die Kaap verhuis waar hy sy posisie as die Stormers se voorste losskakel vasgeknoop het.

Die Stormers se spelpatroon onder die afrigter, John Dobson, pas hom soos ʼn handskoen. Hy het die nodige vryheid om van enige plek af aan te val en sy selfvertroue het die hoogte ingeskiet.

Sy taktiese skopwerk en soms ook skopwerk pale toe skiet dalk effens tekort, maar hy sal die losskakel-mantel in Frankryk dra.

Maar daar is sterk gerugte dat Pollard hom steeds by die groep in Frankryk sal aansluit, aangesien Jacques Nienaber vier skrumskakels in die groep ingesluit het.

Die kans is goed dat een van De Klerk, Cobus Reinach, Jaden Hendrikse of Grant Williams ʼn besering sal opdoen wat die deur vir Pollard sal oopmaak.

Maar wat dan van Libbok?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Te onervare op die vlak. Sonder Pollard wat saam met Vermeulen een van die eintlike kapteine in die span is gaan die Bokke sukkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.