Wie onthou nog vir André Stoop?

André Stoop in sy speeldae (Foto New Era)

André Stoop in sy speeldae (Foto New Era)

Ek wonder hoe goed die Namibiër André Stoop sou gewees het as hy reg bestuur was.

Ek het Stoop die eerste keer gesien speel nadat hy sy militêre opleiding in Oudtshoorn in die vroeë tagtigerjare voltooi het. Hy het vir die destydse Suidwes-Afrika heelagter gespeel  –  hy is in 1960 in Tsumeb gebore – en hy en sy broer Leon (skrumskakel) het die teenstanders ge-mesmeraais.

Hy was een van daardie rugbyspelers wat Oubaas Markotter en Dok Danie Craven voetballers genoem het. Hy was lank en vinnig, het visie en goeie hande gehad, hy kon systap en swenk, hy was baie na aan die volmaakte pakket.

Hy was in Suidwes se span wat in die Sport Pienaarbeker-reeks gespeel het en tot die Curriebekerreeks bevorder is. Hy was die argitek van die span wat in 1988 in die derde plek van die Curriebekerreeks geëindig het en hy was ook in die span wat Transvaal al hul dae gegee het toe hulle net met 12-10 kon deurskraap. Hy was in 1989 se span toe hulle die Westelike Provinsie op ʼn sopnat Nuweland geklop het.

Stoop was in sy eie land ʼn legende. Hy was in 1988 Namibië se sportman van die jaar, het sewe keer vir die Britse Barbarians uitgedraf waar hy buitelandse joernaliste gaande gehad het, maar hy kon nie sy naam van die voorblaaie van die koerante afhou nie.

Dok Craven het dit baie duidelik aan hom gestel dat hy nie vir die Bokke sou speel  tensy hy sy sosiale gedrag verander en op en van die veld die regte balans handhaaf nie.

Dit was seker maar die rede waarom hy oorgeskuif het rugbyliga toe, waar hy onder meer twee jaar lank vir Wigan uitgedraf het voordat hy weer na die 15-manspel teruggekeer het.

Dit bring my uit by James O’Connor, die stoute seun van Australiese rugby, wat die soveelste keer in die sop is, dié keer nadat hy en die veteraan-All Black-slot Ali Williams betrap is met kokaïene. O’Connor het net kywie gehou, maar daar was reeds ʼn skeutjie daarvan in sy gestel.

Die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, het nou sy hand van vriendskap uitgesteek en geê O’Connor het hulp nodig.

Ja, dis waar, baie waar, maar die vraag is waar die streep getrek word. Tot by watter punt moet ʼn mens iemand bystaan wat jou elke keer teleur stel?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Nico K ·

Ja ons onthou vir Andre Stoop. Hy het ook vir Namibië in 2 toetse tee Ierland gespeel wat Namibië beide gewen het. Dit bly maar ‘n vraag of ‘n persoon se persoonlike lewe ‘n faktor behoort te wees in die keuse van spanne.

Henk Venter ·

Ja, hy was uitstaande en met die vleuel Doug Jeffrey aan sy sy het hulle dikwels gate deur die teenstanders gehardloop. Sal nooit vergeet van wedstryd teen Noord-Transvaal die jaar toe hulle vanaf Sport Pienaar tot Currybeker bevorder was nie. Naas Botha het die fout gemaak om `n hoë bal op hom te skop. Hy het vanaf sy eie kwartgebied [met Doug aan sy sy] deurgehardloop en gedruk. Hulle het daardie jaar ook die WP op nuweland geklop. `n Mens moet ook wyle Henning Snyman, hulle afrigter in herinnering roep. Met die beperkte talent wat hy gehad het en die afstande wat die spelers moes ry om te oefen het hy homself onderskei as een van die beste afrigters. Andre se humeur was nie baie lank nie en ongelukkig het hy toegelaat dat hy uitgelok word en dan verkeerd reageer. As hy `n Springbok kon word sou hy een van die bestes gewees het.

Pieter ·

Ja hy was n legende. Namibie het ook vir Wallis gewen 34-30. Ek was daar.
En Skotland dink ek selfde jaar. 1992 of so. Goeie jare gewees.

Peet ·

Hy was die mees opwindende heelagter wat ek nog die voorreg gehad het om te sien speel. Hy en die vleuel, Gerhard Mans, kan hulleself baie ongelukkig dat hulle nooit as Springbokke gekies is nie.

Doep Lambert ·

Ek dink daar was baie spelers in SA wat maar dieselfde sosiale maniere as Stoopp gehad het en wel die hoogste sport bereik, dit was glad nie maklik om vir die Springbokke gekies te word as jy vir Swa gespeel het. Gerhard Mans was op sy tyd definitief die beste vleuel in Suidelike Afrika en ‘n rolmodel op en af van die veld en nooit die Groen en Goud gemaak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.