Schoenmaker, Le Clos reeds môre in aksie

Henri Schoeman het in die Driekamp-kompetisie by die 21ste Statebondspele ʼn goue medalje ingepalm. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Die Statebondspele begin amptelik vanaand met die openingseremonie in Birmingham. Suid-Afrikaanse sportliefhebbers kan hul vere vir ’n besige Vrydag regskud.

Suid-Afrika se medalje-aanslag begin reeds môre wanneer die Blitsbokke hul eerste wedstryd teen Maleisië speel, terwyl Henri Schoeman – die verdedigende driekamp-kampioen – ’n rukkie later in aksie is.

Dit is egter in die swembad waar Suid-Afrika gereeld uitblink. Sterre soos Tatjana Schoenmaker, Matthew Sates, Chad le Clos, Lara van Niekerk en Kaylene Corbett sal oudergewoonte hul bes doen om hakskene vir die ander swemmers te wys.

Schoenmaker en Corbett het onder meer die voorafgaande Wêreldkampioenskap in Boedapest misgeloop en hulle kon uitsluitlik op die Birmingham-skouspel fokus.

Tatjana Schoenmaker in aksie. Foto: Anthony Wallace/AFP.

“Ná ’n kort blaaskans moes ons vir die Wêreldkortbad-kampioenskap in Desember 2021 begin voorberei, maar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie kon geen Suid-Afrikaanse swemmer toe deelneem nie. Vanjaar moes Tatjana weer konsentreer om op haar beste vir die nasionale kampioenskap te wees; dinge het hul tol begin eis,” het Rocco Meiring, Schoenmaker se afrigter, destyds verduidelik.

Meiring glo dat die gebrek aan goeie grondslagwerk ’n definitiewe invloed op ’n swemmer se prestasie het en die besluit is geneem om eerder op die Statebondspele te konsentreer.

Dan is Le Clos môre saam met Pieter Coetze en Clayton Jimmie in die 50 m-vlinderslagitem te siene.

Die 30-jarige Le Clos het reeds 17 Statebondspele-medaljes in sy vertoonkas en indien hy nog twee keer op die podium staan, sal hy die rekord vir die meeste medaljes by dié sportskouspel verbeter.

  • Wanneer om vir die Suid-Afrikaanse atlete uit te kyk:

28 Julie:

20:00: Openingseremonie

29 Julie:

Swem:

11:30: 400 m-vryslag – Andre Ross en Matthew Sates

11:47: 400 m- individuele wisselslag – Rebecca Meder

12:02: 200 m-vryslag – Aimee Canny en Michaela Pulford

12:32: 50 m-vlinderslag – Pieter Coetze, Clayton Jimmie en Chad le Clos

12:48: 50 m-borsslag – Kaylene Corbett, Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk

12:59: 100 m-rugslag – Pieter Coetze en Andrew Ross

13:15: 100 m-vlinderslag – Dune Coetzee, Erin Gallagher en Trinity Hearne

13:43: 4×100 m-vryslagaflos

Halfeindrondes en eindrondes is vanaf 20:07.

Pluimbal:

10:00: Suid-Afrika teen Jamaika

20:00: Suid-Afrika teen Zambië

Rolstoel-basketbal:

17:20: Suid-Afrika teen Engeland

Gimnastiek:

10:00 Khaalid Mia

Rolbal (individueel en in spanverband):

09:30: Colleen Piketh, Suid-Afrika teen Wallis en Suid-Afrika teen Kanada

12:30: Colleen Piketh, Suid-Afrika teen Engeland x2

16:00: Suid-Afrika teen Fidji, Suid-Afrika teen Australië

19:00: Suid-Afrika teen Guernsey, Suid-Afrika teen Skotland en Suid-Afrika teen Wallis

Driekamp:

12:00: Henri Schoeman, Jamie Riddle en Dylan Nortjé

15:31: Simone Ackerman, Shanae Williams en Hannah Newman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Kyk sy mag dalk swem, maar het lanklaas iemand so lief vir die limelight gesien soos sy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.