Vandag se sportnuus

Rugby

  • Die eerste twee wedstryde in die Rugbykampioenskap van 2018 word die naweek gespeel. Saterdag speel Australië om 11:45 teen Nieu-Seeland. Die All Blacks het hul sterks moontlike span gekies vir die kragmeting. Die slot Sam Whitelock sal in sy 100ste toets speel. In die tweede wedstryd om 17:05 meet Suid-Afrika in Durban kragte met Argentinië. Die Springbokspan word vandag bekend gemaak.
  • In die Curriebekerreeks speel die Pumas môre om 17:00 teen Griekwas in Mbombela. Die skeidsregter is Rasta Rasivhenge. Die Vrystaat speel môre om 19:00 teen die Blou Bulle in Bloemfontein. Die skeidsregter is Dan Jones. Vir die Vrystaat is Rudy Paige as nommer 9 gekies, Tian Schoeman as 10, William Small-Smith as 11 en Nico Lee as 12.
  • Intussen is die Cheetahs se voorry, Ox Nche, aangewys as die Cheetahs se PRO14-speler van die 2017-’18-seisoen.
  • Die Internasionale o.18-Rugbytoernooi word Saterdag op Nuweland voortgesit. Die Suid-Afrikaanse Skolespan speel teen Engeland terwyl Frankryk en Wallis mekaar takel. 

Krieket

  • Die derde toets van vyf tussen Engeland en Indië begin Saterdag op Trent Bridge. Engeland het die eerste twee toetse gewen en loop met 2-0 voor in die reeks van vyf toetse.
  • Krieket Suid-Afrika het drie nuwe spelers ingesluit in die Suid-Afrikaanse vrouespan vir die toer na die Wes-Indiese Eilande in September en Oktober. Tumi Sekhukhune, Saarah Smith en Robin Searle sal deel wees van die groep wat in vyf T20-wedstryde en drie Eendagwedstryde in aksie sal wees. 

Tennis

  • By die Cincinnati Meesters was daar oorwinnings vir (2) Roger Federer, (7) Marin Čilić asook (10) Novak Djokovic. Suid-Afrika se (6) Kevin Anderson het in die ronde van 32 teen Jeremy Chardy gespeel en met 7-6 en 6-2 geseëvier. (3) Alexander Zverev is egter deur Robin Haase uitgeskakel.
  • In die Vroue-enkelspel het (2) Caroline Wozniacki haar stryd gewonne gegee teen Kiki Bertens weens ʼn besering. 

Gholf

  • In die Sonskyn-reeks in Suid-Afrika het die spelers vanoggend begin afslaan in die Vodacom-toernooi op die Zebula Gholflandgoed in Limpopo. Zander Lombard, James Kamte en Jaco van Zyl is van die bekendes wat in aksie sal wees. 
  • Op die Europese toer begin die Nordea Meesters vanoggend in Swede. Thomas Aiken en Jaques Kruyswijk slaan 07:30 af. Van die ander Suid-Afrikaners wat hul staal gaan toon, sluit in Peter Karmis en Justin Walters. 
  • In Amerika slaan die spelers later vandag af in die Wyndham Kampioenskap in Greensboro. Ernie Els, Retief Goosen, Rory Sabatini en Tyrone van Aswegen sal Suid-Afrika verteenwoordig.

Netbal

  • Die Varsity Netbaltoernooi begin aanstaande naweek in Port Elizabeth. Vier wedstryde sal op 26 en 27 Augustus gespeel word. 

Hokkie

  • Die CTM Premierliga in Randburg word die naweek voortgesit. Elkeen van die ses mans- en vrouespanne het tydens die eerste ronde verlede week twee wedstryde gespeel. 

Sokker

  • In die plaalike Premierliga is gisteraand een wedstryd afgehandel.

Orlando Pirates 0–1 Bidvest Wits

  • Maritzburg United speel môre om 20:00 teen Kaizer Chiefs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.