Krieket:
- Australië se superster-kolwer, Steve Smith, sal die derde toets in die Reeks om die As misloop nadat hy nog nie ten volle van sy harsingskudding herstel het nie.
- Smith – wat tot op hede twee honderdtalle en 92 in die reeks geslaan het – is op Lord’s deur die opwindende snelbouler Jofra Archer teen die nek geboul.
- Smith het nie verder aan die wedstryd deelgeneem nie en is deur die oud-Klerksdorper Marnus Labuschagne vervang.
- Intussen het Australië se afrigter, Justin Langer, gesê dat sy span nie die Engelse in eie munt sal terugbetaal deur hulle ook met opslagballe te peper nie.
- “Ons gaan nie vasgevang word in ’n emosionele oorlog om te sien wie die vinnigste opslagballe kan boul nie. Ons is hier om te wen,” het Langer gesê.
- Die derde toets begin Donderdag op Headingley en Australië het ’n voorsprong van 1 – 0 in die reeks.
Afrikaspele:
- In Marokko het Suid-Afrika se o. 20-sokkerspan 2 – 0 teen Nigerië verloor.
- Die strandvlugbalspan het egter hul dubbelspelwedstryd 2 – 0 teen die einste Afrika-land gewen.
- Die swemuitdunne begin vandag om 10:00. Suid-Afrika het gedurende die vorige Spele 54 medaljes ingepalm.
Rugby:
- Die laaste groepwedstryde van die Curriebeker word hierdie naweek gespeel.
- Die Griekwas speel tuis teen die Leeus in Kimberley, terwyl die Cheetahs gasheer vir die Westelike Provinsie sal speel.
- Op Loftus sal die Blou Bulle en die Haaie kragte meet.