Vandag se sportnuus

Wallis tydens ‘n oefensessie. Foto: (Kyodo News via AP

Rugby:

* Wallis, een van die gunstelinge vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Japan, begin sy aanslag Maandag in die Toyota-stadion in Toyota City teen Georgië. Die spanne het nog net een keer vantevore teen mekaar gespeel toe Wallis in 2013 met 13-6 gewen het.

Die Walliese kaptein, Alun Wyn Jones, bereik ʼn groot mylpaal wanneer hy die rekordgetal van 129 toetse van Gethin Jenkins ewenaar. Wallis se voorbereiding is ook in omstredenheid gedompel nadat een van die span se hulpafrigters, Robert Howley, huis toe gestuur is en ondersoek word vir sy beweerde betrokkenheid by weddenskappe.

Uitslae:

* Saterdag: Groep B: Nieu-Seeland 23, Suid-Afrika 13; Groep C: Frankryk 23, Argentinië. 21 Groep D: Australië 39, Fidji 21.

* Sondag: Groep A: Ierland 27, Skotland 3.  Groep B: Italië 47, Namibië 22. Groep C: Engeland 35, Tonga 3.

* Thomas du Toit, vaskopstut die Sharks wat ook loskop kan speel, is deur die Springbokkamp in Nagoya, Japan, nadergetrek om die beseerde Trevor Nyakane te vervang.

Du Toit, wat tans vir Toulouse in Frankryk speel om sy fiksheid te behou, is reeds op pad na Japan nadat Nyakane sy kuitspier in Saterdag se verloorstryd teen Nieu-Seeland geskeur het. Du Toit, wat reeds in tien toetse gespeel het, was in die vergrote Springbokgroep, maar Frans Malherbe, Nyakane en Vincent Koch (almal vaskopstutte) is bó hom verkies.

Europa se tennisspan vier hul oorwinning. Foto: (Salvatore Di Nolfi/Keystone via AP)/Keystone via AP

Tennis:

* Europa se tennisspan het Sondag in Genève, Switserland, sy kragmeting in die Laverbeker met 13-11 teen die Wêreldspan gewen.

Die kragmeting was tot en met die laaste wedstryd in die weegskaal voordat die Duitser Alexander Zverev sake in sy span se guns beklink het met ʼn oorwinning van 6-4 3-6 10-4 oor Kanada se Milos Raonic.

Vroeër het Taylor Fritz (Wêreldspan) vir Dominic Thiem (Europa) met 7-5 6-7 (3) 10-5 geklop. In die dubbelspel het die Wêreldspan se dubbelspelpaar van John Isner en Jack Sock oor Roger Federer en Stefanos Tsitsipas (Europa) met 7-5 6-4 10-8 geseëvier. Dit was Europa se derde opeenvolgende sege.

Brad Binder vier sy oorwinning. Foto: (AP Photo/Jose Breton)

Motorfietsrenne:

* Suid-Afrika se Brad Binder (KTM) het Sondag in Madrid die Moto2-ren gewen toe hy voor Jorge Navarro (Speed Up) en die kampioenskapsvoorloper, Alex Marquez (Kalex), geëindig het.

Dit was Binder se tweede oorwinning vanjaar, maar hy bly vyfde (169) op die voorloperpuntelys. Marquez (213) is eerste, gevolg deur Navarro (175), Augusto Fernandez (171) en Thomas Luthi (169).

Gholf:

* Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (272) het derde geëindig in die BMW PGA-toernooi  wat op Wentworth in Engeland beslis is.

Die toernooi is deur Danny Willet van Engeland gewen wat op 268 houe, 20 houe minder as die baansyfer, geëindig het. Spanje se Jon Rahm (271) was tweede, Bezuidenhout derde en die VSA se Patrick Reed en die Amerikaner Billy Horschel (albei 273) saam vierde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.