Vandag se sportnuus

Ter illustrasie.. (Foto: Wang Lili, Xinhua)

Atletiek:

  • Atletiek Suid-Afrika het ná die maatreëls wat president Cyril Ramaphosa Sondag ingestel het, alle byeenkomste vir een maand opgeskort.

Dit sluit dan alle baan- en veldbyeenkomste, padwedlope, veldwedlope en die gewilde Parkrun-inisiatief in.

“ASA sal ná 15 April weer oor die pad vorentoe besluit en alle faktore sal in ag geneem word. Ons dra die beste belange van alle atlete, organiseerders en beamptes op die hart en ons sal deurlopend met almal kommunikeer,” is daar in ’n verklaring gesê.

Op hul Facebookblad het Parkrun SA ’n verklaring van Tom Williams, bedryfshoof van Parkrun Global, geplaas.

“Ons sal ons byeenkomste sluit waar openbare gesondheidmaatreëls dit verlang of vereis. Ons sal verdere inligting rakende die onderwerp teen Woensdag uitstuur,” het hy gesê.

Krieket:

  • Die tydelike uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, dr. Jacques Faul, het gesê dat die beheerliggaam besluit het om alle krieket vir 60 dae af te las.

Dit sluit alle eersterangse krieket, die Momentum-eendagbeker, sowel as junior en amateurkrieket in.

“Ons neem die president se maatreëls baie ernstig op en ons wil ons invloed gebruik om die uitwerking van die virus te verminder. In hierdie tydperk van voorsorg en veiligheid doen ons ’n beroep op al ons lede om nie deel van enige krieketbyeenkoms te wees nie,” het hy gesê.

Extreme Fighting Championship:

  • EFC85, wat op 4 April in Kaapstad sou plaasvind, is na die EFC-instituut in Sandton verskuif.

Natuurlik sal bitter min toeskouers toegelaat word, maar uitsaaiwerk sal steeds voortgaan.

“Saam met die UFC sal ons ons bes probeer om die atlete steeds aktief te hou. Terselfdertyd sal ons alles in ons vermoë doen om die beste veiligheid- en gesondheidsmaatreëls beskikbaar te hê.”

Maroela Media sal later vandag berig oor Cameron Saaiman, een van die EFC se jongste en talentvolle sterre, wat die afgelope naweek in een van die beter gevegte by EFC84 betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.