Vandag se sportnuus

Keaton Jennings. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Engeland se krieketbase het besluit om Keaton Jennings weer vir die komende reeks teen die Wes-Indiese Eilande nader te trek.

Keaton se pa, Ray, was ’n legendariese Noord-Transvaal en Transvaalse speler in die 1970-’80’s en was Suid-Afrika se voorste paaltjiewagter in dié era. Hy was ook vir ’n ruk die afrigter van die Proteas.

Keaton is ’n voormalige SA o.19-kaptein, maar hy het sy Engeland-buiging in 2016 teen Indië weg van die huis gemaak. Hy het terstond ’n honderdtal in sy eerste toets as openingskolwer aangeteken en die Britse media het opgewonde regop gesit en gewonder of daar uiteindelik ’n waardige opvolger vir Andrew Strauss is.

Maar hy het in die daaropvolgende toetse gesukkel en ná 17 toetse het hy 781 lopies teen ’n gemiddeld van 25,19 aangeteken. Hy het wel in Februarie 141 lopies vir die Engelse A-span in hul toerwedstryd teen ’n Krieket Australië-elftal geslaan.

Die reeks begin in Julie en sal agter geslote deure gespeel word.

Engeland se oefengroep vir die toetsreeks: Moeen Ali, James Anderson, Jofra Archer, Jonny Bairstow, Dom Bess, James Bracey, Stuart Broad, Rory Burns, Jos Buttler, Zak Crawley, Sam Curran, Joe Denly, Ben Foakes, Lewis Gregory, Keaton Jennings, Dan Lawrence, Jack Leach, Saqib Mahmood, Craig Overton, Jamie Overton, Matt Parkinson, Ollie Pope, Ollie Robinson, Joe Root, Dom Sibley, Ben Stokes, Ollie Stone, Amar Virdi, Chris Woakes en Mark Wood.

Rugby:

  • Dalton Papalii en Akira Ioane maak hul terugkeer tot die Blues vir die naweek se Aotearoa-wedstryd teen die Chiefs in Hamilton.

Hul gevaarlike agterlyn – met spelers soos Beauden Barrett en Otere Black – is egter onveranderd. Die opwindende Blues het verlede naweek die Hurricanes met 30–20 geklop.

Blues teen Chiefs: Beauden Barrett (heelagter), Mark Telea (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), TJ Faiane (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Otere Black (losskakel), Sam Nock (skrumskakel), Hoskins Sotutu (agtsteman), Dalton Papalii (flank), Akira Ioane (flank), Josh Goodhue (slot), Patrick Tuipulotu (kaptein en slot), Ofa Tuungafasi (stut), James Parsons (haker) en Alex Hodgman (stut).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.