Vandag se sportnuus

David Miller. Foto: GB Jordaan.

Krieket:

  • Die Internasionale Krieketraad (IKR) het uiteindelik ’n besluit rakende vanjaar se T20-Wêreldbeker in Australië geneem.

Die mik-en-moker-skouspel sou in Oktober plaasgevind het, maar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is dit nou na 2021 of 2022 uitgestel.

Die volgende Wêreldbeker-toernooi (oor 50 boulbeurte) is na Oktober 2023 verskuif.

“Die raad het ingestem om die veranderende situasie te monitor en al die beskikbare inligting te oorweeg sodat ’n ingeligte besluit geneem kan word rakende die aanbieding van internasionale toernooie in 2021 en in 2022,” het die IKR in ’n verklaring gesê.

Die besluit sal waarskynlik AB de Villiers se moontlike terugkeer bemoeilik. Die talentvolle kolwer word volgende jaar 37 jaar oud.

  • Intussen het Engeland die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande in Manchester met 113 lopies gewen.

En die Britse pers, asook die nasionale kaptein, kan nie genoeg van Ben Stokes se vertoning praat nie.

Die veelsydige Stokes is as die speler van die wedstryd aangewys nadat hy 176 en ’n vinnige 78 met die kolf aangeteken het. Hy het ook met die bal uitgeblink en 1/29 en 2/30 geneem.

“Ben Stokes is ongetwyfeld Mr Incredible van die Incredible-flieks. Ek dink hy kan beslis aanhou om op hierdie hoë vlak te presteer,” het Joe Root (kaptein) van Stokes gesê.

Rugby:

  • Die Suid-Afrikaanse vleuel Kobus van Wyk, wat tans vir die Hurricanes in Nieu-Seeland se Aotearoa-reeks speel, sal ná afloop van die seisoen na Engeland verhuis.

Die 28-jarige voormalige Stormers-speler sal dan rugby vir die Leicester Tigers speel.

“Kobus kan uitstekend op die rugbyveld afrond en hy spog met ’n indrukwekkende rugbygetuigskrif. Hy is sterk en hardwerkend, terwyl hy dieselfde waardes as die res van die Leicester-groep deel,” het Geordan Murphy, die Tigers se direkteur van rugby, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.