Vandag se sportnuus

James Anderson. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Engeland se James Anderson het gister die eerste snelbouler geword om 600 paaltjies in toetskrieket te neem. Die 38-jarige het van Pakistan se kaptein, Azhar Ali, ontslae geraak om hierdie mylpaal te bereik.

Kort nadat hy die paaltjie geneem het, het die huldeblyke op sosiale media begin instroom vir die bouler wat al vir die afgelope 17 jaar op die internasionale toetsverhoog presteer.

“Staan vir ’n oomblik stil en dink net hoe goed Jimmy Anderson is. Jy is ’n ongelooflike speler,” het Suid-Afrika se Dale Steyn gesê.

Dit het Anderson 33 745 aflewerings geneem om die paaltjies te neem en hoewel hy soms onspeelbaar in Engelse toestande is, het hy al met tye in plekke soos Indië en Australië gesukkel.

Hierdie onvermoë om kolwers op minder hulpvaardige blaaie te laat bontstaan, het vir kritici genoeg ammunisie gegee: Anderson is ’n goeie bouler, maar hy is wragties nie die beste nie.

Maar ’n loopbaan van 156 toetse is so te sê ongehoord vir ’n snelbouler en hy is nog ver van klaar – 700 toetspaaltjies is die volgende doelwit.

Rugby:

  • Die organiseerders van die Guinness PRO14 het bevestig dat die Cheetahs en Kings vir ’n ruk nie deel van die toernooi sal wees nie weens Covid-19 se reisbeperkings.

Dít kom nadat die Kings gister weens finansiële redes vrywillig uit alle rugby-aksie vir die res van die jaar onttrek het.

Volgens die toernooi se organiseerders is hulle bewus van die Kings se besluit en dat dit saam met die beperkings beslis ’n invloed op die toernooi het.

“Weens die volgehou reisbeperkings wat deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel is, is dit onwaarskynlik dat enige PRO14-wedstryde teen Suid-Afrikaanse spanne tot en met 2021 gespeel sal word. PRO14 bly in verbinding met SA Rugby oor wanneer die spanne weer in die nuwe jaar sal kan speel,” het die organiseerders in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.