Vandag se sportnuus

Anrich Nortjé. Foto: Twitter.

Krieket:

  • In gisteraand se Indiese Premierliga-wedstryd was die aandag op die stryd tussen die Suid-Afrikaners gevestig.

AB de Villiers was in die rooi van die Royal Challengers Bangalore te siene, terwyl Kagiso Rabada en Anrich Nortjé in die vrolike blou kleure van die Delhi Capitals gespeel het.

Die Capitals het eerste gekolf en 196/4 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Marcus Stoinis (53 van 26 balle) en PP Shaw (42 van 23 balle) het amok met die wilgerlat gemaak.

Die tafel was dus gedek vir De Villiers om sy vaardighede met die kolf uit te stal, maar die blitsige Nortjé (2/22) – wat met tye vinniger as 150 km/h geboul het – het egter ’n stokkie daarvoor gesteek.

Nadat De Villiers (9) ’n prag grenshou van Nortjé se vorige aflewering geslaan het, het die Protea-snelbouler ’n blitsige opslagbal afgestuur.

Die aflewering was te vinnig vir De Villiers en Shikhar Dhawan het ’n maklike vangskoot benut om van die gevaarlike kolwer ontslae te raak.

Kagiso Rabada (4/24) het ook met die bal uitgeblink en het onder meer vir Virat Kholi (43) terug na die kleedkamer gestuur.

Die Capitals het die kragmeting uiteindelik met 59 lopies gewen

Rugby:

  • Engeland se Eddie Jones het twee Suid-Afrikaners in sy oefengroep van 28 spelers ingesluit.

Harlequins se vaskopstut Simon Kerrod het vir die Haaie, Grens en Kings gespeel, terwyl David Ribbans (slot) vir die Westelike Provinsie se o. 21’s uitgedraf het.

Engeland-oefengroep:

Voorspelers: Jack Clement, Alex Dombrandt, Ellis Genge, Jamie George, Joe Heyes, Maro Itoje, Simon Kerrod, Lewis Ludlow, Alex Moon, David Ribbans, Jack Singleton, Billy Vunipola, Mako Vunipola en Mark Wilson.

Agterspelers: Ali Crossdale, Elliot Daly, Fraser Dingwall, Nathan Earle, Owen Farrell, George Ford, Piers Francis, George Furbank, Willi Heinz, Joe Marchant, Jonny May, Alex Mitchell, Ollie Thorley, Ben Youngs.

Tennis:

  • In gister se aksie op Roland-Garros het Novak Djokovic Rusland se Karen Khachanov geklop om vir die kwarteindstryd van die Franse Ope te kwalifiseer.

Die telling was 6-4, 6-3 en 6-3 in die Serwiër se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.