Vandag se sportnuus

Die Springbokke ná ’n wedstryd teen die All Blacks in Wellington. (Foto: Twitter via @Springboks)

Rugby:

  • Daar was vroeër sprake dat die Springbokke deel van die Sesnasiesreeks in Europa sou word, terwyl die span se afwesigheid in vanjaar se Rugbykampioenskap ekstra olie op die gerugtevuur gegooi het.

Maar Sanzaar het bevestig dat al vier deelnemende spanne – die Springbokke, All Blacks, Australië en Argentinië – tot 2030 deel van die Rugbykampioenskap-aksie sal bly.

“Die herverbintenis van die vier unies aan die langermyn-toekoms van die internasionale spel is ’n belangrike wegspringpunt omdat ons in die komende jare ’n nuwe rigting sal moet inslaan,” het Andy Marinos, Sanzaar se uitvoerende hoof, gesê.

Hy het bygevoeg dat daar opwindende tye op rugby in die Suidelike Halfrond wag en dat verdere aankondigings in die komende weke verwag word.

Krieket:

  • Die Sunrisers Hyderabad het hul plek in die IPL-uitspeelwedstryde verseker toe hulle die Mumbai Indians met tien paaltjies verrinneweer het.

Die Sunrisers se David Warner (85) en Wriddhiman Saha (58) het amok met die kolf gemaak om die wedstryd vir hul span te beklink.

Vroeër het Quinton de Kock 25 van 13 balle vir die Indians geslaan.

Tennis:

  • In vandag se tennisaksie wag daar ’n herontmoeting tussen Suid-Afrika se Kevin Anderson en Rusland se Daniil Medvedev.

Anderson het onlangs vir die Rus in Wene ore aangesit; dit was die eerste keer in twee jaar wat die Suid-Afrikaner met ʼn top-gekeurde speler afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.