Vandag se sportnuus

Paris Saint-Germain het die wedstryd uiteindelik met 5 – 1 gewen. Foto: Twitter.

Sokker:

  • Sokkerspelers van Paris Saint-Germain en Istanbul Basaksehir het gisteraand die knie gebuig terwyl hulle ook T-hemde met die slagspreuk “No to Racism” daarop gedra het.

Die aanvanklike Kampioene Liga-wedstryd tussen die twee spanne is Dinsdagaand afgelas nadat al twee spanne se spelers uit protes van die veld gestap het.

Die spanne beskuldig een van die wedstrydbeamptes, Sebastian Coltescu, van rassisme tydens ’n onderonsie met Basaksehir se Kameroense hulpafrigter, Pierre Webo, in die 14de minuut van die wedstryd.

Volgens TV-materiaal het ’n ontstoke Webo gevra waarom rassistiese terminologie gebruik is om hom mee te beskryf.

AFP het die onderonsie vertaal en Coltescu het na bewering gesê: “Dit is onmoontlik. Gaan identifiseer hom – die swart een.”

Volgens UEFA se regulasies kan ’n skorsing van tien wedstryde Coltescu in die gesig staar, maar luidens mediaberigte was Dinsdag se kragmeting moontlik reeds die beleërde Roemeense wedstrydbeampte se laaste wedstryd.

The Sun berig dat Coltescu reeds vooraf aangedui het dat hy sy skeidsregterdrag ná ’n laaste Kampioene Liga-wedstryd sal wegbêre.

Hy het ook in die media aangevoer dat hy niks verkeerd gedoen het nie.

“Ek probeer om ’n goeie mens te wees. Nodeloos om te sê gaan ek die media vir die volgende paar dae probeer vermy. Maar mense wat my ken, weet dat ek hoegenaamd nie ’n rassis is nie,” het Coltescu gesê.

Intussen is daar ook ’n moontlikheid dat UEFA een van Basaksehir se beamptes weens beweerde rassisme moet ondersoek.

Een van die Turkse klub se personeellede het glo in ’n video gesê dat Roemeniërs sigeuners (gypsies) is.

Krieket:

  • Suid-Afrika se Dale Steyn het 2/33 in sy debuutwedstryd vir die Kandy Tuskers in Sri Lanka se plaaslike T20-reeks geneem.

Die Tuskers het die Jaffna Stallions met ses paaltjies geklop.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.