Wat jy op sosiale media deel, kan jou dalk in tjoekie laat beland

sosiale-media

Foto: Childrensministryonline.com

Suid-Afrikaners moet hulle gereed maak om eersdaags tot soveel as R300 000 op te dok, of vier jaar in die tronk te sit, indien hulle ʼn kaal foto van ʼn persoon sonder dié persoon se toestemming aanstuur. Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswet op Films en Publikasies op 2 Oktoberonderteken het.

Carla de Beer, ʼn prokureur by The Digital Law Company, verduidelik dat die nuwe wetgewing talle sosialemediagebruikers, hetsy dit Facebook, Twitter, Whatsapp of Instagram is, in die moeilikheid kan laat beland.

“Die wet is nie baie goed geskryf nie en bevat heelwat skuiwergate,” sê De Beer. “Artikel 18F in dié wet, wat die verbod teen verspreiding van private seksuele foto’s en films bevat, veroorsaak tans baie verwarring omdat die bewoording van die wet nie goed uiteengesit is nie.” Dié artikel bepaal dat niemand, deur middel van enige medium, ʼn private seksuele foto of film mag tentoonstel sonder die toestemming van die individue wat in die foto of film verskyn nie, of met die voorneme om daardie individu skade te berokken nie. “Die wetgewing is so uiteengesit dat dit sê ʼn foto kan nie versprei word as daar nie ʼn bedoeling was om dit vir iemand anders te stuur nie. Maar hoekom het ek dan die foto geneem? Daar is nog baie onduidelikheid hieroor.”

ʼn Internetdiensverskaffer sal ook, ingevolge die wet, verplig wees om inligting aan die Film- en Publikasieraad (FPR) of ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te gee oor die identiteit van die persoon wat die private seksuele foto of film gepubliseer het.

“As jy sonder ʼn persoon se toestemming ʼn kaal foto stuur, kan jy met R150 000 beboet word, of twee jaar tronkstraf kry. Sodra ʼn persoon in so ʼn foto identifiseerbaar is weens ʼn geboortemerk, ʼn tatoeëermerk of hul gesig, kan die persoon wat die foto aangestuur het ʼn R300 000-boete of vier jaar tronkstraf in die gesig staar,” sê De Beer.

Die wetgewing word ook as ʼn aanval op vryheid van spraak gesien en is al vroeër op Maroela Media as die Wet op Internetsensuur gedoop. Die wetgewing reguleer enige verspreider of skepper van aanlyn inhoud, wat onder andere sosialemediaboodskappe, nuusartikels, prentjies en foto’s, en nog vele ander materiaal behels.

“Enigiets wat op sosiale media gedeel word, word as gepubliseer geag deur die wetgewing. As iemand nie van die inhoud van jou inskrywings hou nie, kan hulle dit by die raad gaan aangee en die raad kan jou inskrywing klassifiseer en verwyder op grond van haatspraak of rassisme of ʼn ander oortreding,” sê De Beer.

Die wet kan ook toekomstige hoofpyne veroorsaak vir verbruikers wat van die tradisionele betaaltelevisiemodel wegbeweeg en ander opsies soos Netflix of Amazon Prime gebruik. Die wet gee nou die FPR die mag om ʼn jaarlikse lisensiegeld te hef van die tipe verskaffers, wat tipies oor die internet hul dienste verskaf. Dit gee ook die raad die mag om op te tree teen inhoudsverspreiders wat nie aan hulle regulasies voldoen nie

Die FPR het in ʼn verklaring gesê hulle verwelkom die president se besluit om die wysigingswet te onderteken. “Die wet is ʼn oorwinning vir Suid-Afrikaanse verbruikers, omdat dit sal verseker dat die publiek regulatoriese instrumente tot hul beskikking sal hê om mense en maatskappye verantwoordbaar te hou, sou hul regte oorskry word,” lui die verklaring.

“Die wese en bedoeling van die wet is fantasties, omdat daar nog glad nie voorheen iets was wat kubermisdaad kon reguleer soos nou nie. Dit wys dat Suid-Afrika op wetgewende vlakke steeds vorder, maar daar is nog baie wat aan die wet verander moet word,” sê De Beer

Sy glo soos die wet nou daar staan, is dit te maklik vir ʼn persoon om met oortredings weg te kom, of vir onskuldige mense om in die moeilikheid te beland.

Phumzile van Damme, DA-LP en woordvoerder oor kommunikasie, het ook al gesê die DA sal die howe nader om die wysigings ongrondwetlik te laat verklaar indien die ANC sy meerderheid in die parlement gebruik om dit deur te stoomroller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hansie

Ek wil net graag weet hoekom enigiemand dit nodig ag om ‘n kaal foto van iemand anders vir ‘n 3de party te stuur? Ons sit juis nou in die middel van ‘n krisis tov geweld teen vrouens. 99% van kaal foto’s of video’s is van vroue.

Spiekeries

My vraag is: Hoekom bestaan daar hoegenaamd sulke foto’s? Watse behae (geld?) kry die persoon in die foto of die fotograaf daaruit? Die kanse dat so foto op sosiale media beland, is legio.

Helen

Wie laat sulke foto’s neem van hulself in elk geval. Sies man, mens het darem trots. Dis ‘n baie persoonlike ding, en as jy sulke foto’s laat neem van jouself, moet jy mos verwag dat dit ‘n lekker wapen teen jou gaan wees.

Sammy

Mal wêreld waarin ons leef. Hoe meer die tegnologie ontwikkel, hoe groter die afval.

Corne

Julle mis die hele punt, Hulle wil nou geld eis deur lisensies gelde tevra vir wat jy op die internet kyk deur middel van Netflix ens, Dit kom van dat die SAUK wat onder die ANC is so groot mislukking is en hulle geld nodig het om daai sinkende skip te probeer red, Nou gaan hulle ons maak betaal vir hulle weereens. En die ander punt is hulle het nou basies die reg om enige van mense se privaat goed tegaan lees.