3 nuwe BMW-motorfietsmodelle bekend gestel  

’n Paar jaar gelede het ’n vriend van my, ná ’n traumatiese ervaring, sy BMW F 800 ST gevat en net gery. Sonder plan, sonder besprekings, net om sy kop skoon te kry. Sy storie het my aangegryp en boonop het ek vir die eerste keer gehoor van die BMW ST. Ek het geweet van die 800 GS maar nie van die twee padfietse wat op dieselfde kragbron gegrond was nie. Die F 800 ST en F 800 R het seker nie in groot getalle verkoop nie, want ʼn mens sien julle nie juis op die pad nie.

Met die onlangse bekendstelling van die nuwe F 850 GS het dit BMW ’n geleentheid gegee om die saak reg te stel en twee nuwe padfietse bekend te stel. Die ST het heeltemal weggeval en in sy plek is daar nou die F 900 XR. Die F 900 R is ook heeltemal nuut. BMW het ons genooi om ’n roete te kom ry met die nuwe fietse en ons ’n verrassing of twee belowe. Die eerste verrassing was dat die nuwe BMW S 1000 XR ook nou beskikbaar is en hulle het hierdie fiets ook saamgebring vir die dag.

S 1000 XR

Die XR benaming het die eerste keer verskyn toe BMW hul superfiets, die S 1000 RR, se enjin in ’n fiets gesit het wat voel soos ’n GS: regop sitposisie met breë handvatsels. Die resultaat was ’n sportiewe toerfiets met uitnemende verrigting. Vir 2020 het BMW die XR ligter, vinniger en meer veelsydig gemaak. Een van my kollegas het opgemerk dat ons die XR so lanklaas gery het dat ons al vergeet het hoe vinnig hy is. Die viersilinder enjin is uiters glad en die ratkas is met snelskakeling toegerus. Die ou XR het sy jare begin wys en BMW het ingespring en die nuwe TFT-skerm nou ook na die nuwe XR gebring.

Die XR moet egter ook sy rol as toerfiets gestand doen. Die fiets is baie luuks toegerus en die saal is uiters gemaklik. Die fiets is groot, en veral om die tenk het dit vir my gevoel asof die bakpanele groter is. So as jy ’n gemaklike fiets met superfiets verrigting soek, dan is die S 1000 XR net die fiets.

F 900 R en XR

Hierdie twee modelle is in Februarie in Spanje aan die wêreld bekend gestel en ons kon nou uiteindelik die fietse van naby beskou. Uit die benaming is dit duidelik dat die enjin ’n hupstoot gekry het van die een wat diens doen in die 850 GS. Die kapasiteit is vergroot van 853 cc na 895 cc wat die kraglewering met 10% opgestoot het. Dit sal seker nie lank vat vir hierdie enjin om sy verskyning in die GS ook te maak nie.

Die XR lyk soos sy groter stalmaat maar is aansienlik goedkoper. Die R én die XR beskik nou oor ’n herontwerpte raam wat stywer is as die vorige modelle. In die ewige soeke na gewigbesparing het die nuwe F 900 ’n ligter brandstoftenk. Die R s’n hou 13 liter en dié van die XR 15,5 liter.

Die R is ’n baie sportiewe fiets. Selfs sy uitlaatpyp se grom is dieper as die van die XR. Die voetrusse is hoër en verder terug geplaas en daar is ook geen windbeskerming nie. Al die kontroles is die bekende BMW eenhede en die TFT skerm is uiters modern.

Natuurlik het BMW ook die elektronika bygewerk en die fietse beskik oor verskeie nuwe elektroniese hulpmiddels. Op die pad het albei fietse my beïndruk. Ek dink die R kan hope pret wees as ’n pendelfiets, maar my persoonlike keuse is die XR, bloot net oor sy meer ontspanne ryposisie.

BMW R 18

Tydens ’n kort middagete was dit tyd vir ons tweede verrassing: die nuwe R18. Dit is BMW se grootste bokserenjin nóg in ’n fiets wat moet kompeteer in die Amerikaanse mark. Ons behoort later vanjaar ook hierdie fiets in Suid Afrika te kan ry. Voorlopig kon ons net op hom sit en ons verkyk aan die detail.

BMW se markaandeel het ’n klein bietjie gekrimp die laaste ruk en hulle hoop om die verlies weer op te maak met die nuwe F 900 reeks. Hulle het nou die regte produk. Soos altyd sal ’n meer volledige verslag volg, sodra ek met die fietse kan ry vir ’n langer tydperk.

Voorlopige pryse is as volg:

BMW S 1000 XR: Vanaf R240 400

BMW F 900 XR: Vanaf R169 100

BMW F 900 R: Vanaf R164 700

Vir meer inligting oor BMW se reeks fietse, klik hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.