Dis die week van die Frankfurt Messe, die wêreld se grootste en beste motorskou wat elke twee jaar in Duitsland se finansiële hoofstad aangebied word.
Maar ‘n vliegafstand van 16 700 kilometers (heen en weer) om een of selfs twee dae by die motorskou deur te bring is darem bietjie te veel gevra en derhalwe het Maroela Media se motorkorrespondent by Ford Deutschland in Keulen aangeklop vir ‘n evaluering van die maatskappy se fris klein 1.6-liter turbodiesel tydens ‘n uitgebreide reis wat tot in Berlyn gestrek het en verskeie besienswaardighede langs die lang tog ingesluit het.
Soos die Fiestas wat ons hier plaaslik kan koop, het die roesbruin metaalkleurige wiele met registrasie K-QM 9565 aan alle verwagtinge voldoen.
Daar was genoeg pakplek vir twee insittendes se weeklange bagasie en ofskoon dit as ‘n klein motor by ons beskou word, het die Fiesta sy staal getoon met goeie versnelling, die vermoë om snelhede te handhaaf sonder om voortdurend te moet terugrat en met ‘n gemiddelde brandstofverbruik – oor 1 700 kilometers – van 4.7 liters/100 km.
Bygesê, brandstofpryse (diesel) wissel in Duitsland van plek tot plek en dag tot dag, maar kos gewoonlik €1-50/liter. Teen die huidige wisselkoers van ongeveer R13-50/Euro betaal Suid-Afrikaners dus R20-25 per liter. Dit klink erg, maar Duitsers verdien nagenoeg 2½ keer beter salarisse as ons.
Nietemin, die reis na Berlyn was via Leipzig waar die Völkerschlachtdenkmal – ‘n monument wat die oorwinning, in 1813, oor Napoleon Bonaparte herdenk). Hierdie granietkolos, wat teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog erg beskadig is toe eenhede van die Amerikaanse 3e Leër met die snel verbrokkelende Wehrmacht slaags geraak het, moes as inspirasie gedien het vir Gerhard Moerdyk, argitek van die Voortrekkermonument. (Sien foto’s)
Ons eie monument het darem nog nie so onder die bomme en Granatensplitter, soos ‘n gids dit genoem het, deurgeloop nie. Die herstelwerk is egter puik gedoen en ‘n mens sal die skade slegs agterkom nadat dit uitgewys is.
Maar terug na die Fiesta: Hierdie buksie (Duitse spesifikasie) is toegerus met sewe lugsakke en selfs sulke luukse items soos outomatiese reënsnuffel-ruitveërs wat gewoonlik net in duurder motors aangetref word.
Gemoedsrus word verder versterk deur ‘n 4-jaar/120 000 km-waarborg, parkeerwaarskusein agter en 95 gm CO2-uitlaatgasse wat hom vir belastingdoeleindes buite die kloue van die Zuma-regime plaas.
Die voortgesette reis op die A9 na Berlyn het ook die Fiesta se gewillige karakter en goeie wringkrag (200 Nm) na vore gebring.
Hierdie klein diesel was lag-lag in staat tot ‘n (wettige) 175 km/h, maar ons moes steeds toesien hoe haastiger Duitsers met hulle swart stasiewaens (Audi, Mercedes-Benz, BMW en Skoda) by ons verbyflits – dikwels teen so ‘n geskatte 230 km/h. Teen 140 km/h toer die Fiesta se enjin teen ‘n rustige 3 000 opm. Die rooilyn begin eers by 5 000 opm.
Die enigste plek waar die Fiesta dalk ietwat uit sy diepte kon gevoel het, was in die parkeergarage by die Porsche-museum in Stuttgart. As jy klein, half Brits-Amerikaans is en na diesel ruik, kan dit nogal aardig wees tussen al die kragtige Germaanse waens wat die kelder met jou deel.
Nietemin, die Fiesta het aan al die verwagtinge wat verrigting, ekonomie en bougehalte voldoen – en dit verklaar waarskynlik waarom hierdie gewilde intreevlak-motor so goed in ons land verkoop (836 in September). Dit was dus met ‘n swaar hart wat ons die ‘vakansie-Fiesta’ moes terugbesorg aan Auto Nauheim in Eschborn – so 10 kilometers van die Frankfurt-lughawe af.