Hyundai Suid-Afrika het sopas hul nuutste Elantra-reeks bekendgestel, en ‘n eg Suid-Afrikaanse Tucson wat plaaslik mooigemaak word. ’n Mens weet ‘n vervaardiger luister na hul kopers as hulle hul motors vir die plaaslike mark begin aanpas.
Die spoggerige nuwe Elantra is ook ietwat van ʼn verrassing vir my. Ek sê nog altyd, vir ‘n motor om suksesvol te wees moet dit iets spesifiek goed doen… al is dit net een ding. Hy moet óf goedkoop, óf vinnig, óf luuks óf ‘n winskoop wees. As ‘n kar nie een ding goed doen nie, dan het daardie vervaardiger ‘n probleem.
In dié geval is Hyundai baie gelukkig. In hierdie segment het die Hyundai Elantra 1.6 TGDI Elite in dié stadium nie ‘n mededinger nie. Die Ford Focus 1.5T Trend outo kom die naaste aan die Elantra met 132 kW en 240 Nm, maar nie een kom naby aan Hyundai se 150 kW en 265 Nm nie. Die enjin is gekoppel aan Hyundai se 7-spoed DCT outomatiese ratkas. Dié Elantra sal hol van 0 tot 100 km/h in 7.7 sekondes en is beperk tot 210 km/h.
Ons het kans gehad om die Elantra te laat wys wat hy kan doen op Redstar Raceway naby Delmas. Ek is stomgeslaan oor hoe goed die Elantra en Tucson Sport dié tipe misbruik hanteer. Die remme het sterk gestaan en die enjin geensins oorwerk nie.
My eerste indrukke is dat Hyundai hul sokkies al baie hoog teen die gehaltebeen opgetrek het, en hul waarborg is markleidend. Ons sal weer ‘n beurt met beide kry om ‘n meer indiepte-resensie te doen oor die nuwe Elantra en Tucson Sport. Ons sal hulle dan ook teen hul mededingers vergelyk.
Die Elantra-reeks lyk só:
Elantra 1.6 Executive | 94 kW/ 154 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R299 900 |
Elantra 1.6 Executive outo | 94 kW/ 154 Nm | 6.9 ℓ/100 km | R314 900 |
Elantra 2.0 Elite outo | 115 kW/ 195 Nm | 8.3 ℓ/100 km | R349 900 |
Elantra 1.6 TGDI Elite DCT Sport | 150 kW/ 265 Nm | 7.9 ℓ/100 km | R399 900 |
Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-fabriekswaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ‘n 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Die Hyundai Tucson is Suid-Afrika se gunsteling- mediumgrootte sportnutsvoertuig. Daar het sedert Maart 2016 al 7 553 verkoop en dit het 16.5% van die mark weggeraap. Hyundai het dit nou goed gedink om vir ons ‘n “opgedolliede” weergawe te gee.
Dié Tucson kry nuwe 19”-naelloopskoene, ‘n bakwerkpakket en ‘n indrukwekkende vier-uitlaatpypstelsel.
Die “blaasdinge”, soos my oudste sê, klink nogal goed. Die Tucson Sport geniet ook dieselfde 1.6 TGDI-enjin as die Elantra met 150 kW en 295 Nm. Die wringkrag is hoër omdat die Tucson ‘n handratmodel is.
Die kwaliteit en spesifikasievlak beïndruk en die aangesig is mooi, maar daar is ‘n paar mededingers wat die Tucson ‘n harde tyd gaan gee. Die Ford Kuga 2.0T AWD Titanium het 177 kW, 340 Nm-wringkrag en allewielaandrywing vir slegs R17 000 meer.
Sodra ons meer tyd met die Tucson deurbring, sal ons beter daaroor kan berig en dit met sy mededingers vergelyk.
Die reeks lyk so:
Tucson 2.0 Premium | 115 kW/ 196 Nm | 8.9 ℓ/100 km | R379 900 |
Tucson 2.0 Premium outo | 115 kW/ 196 Nm | 9 ℓ/100 km | R399 900 |
Tucson 1.6 Turbo Executive | 130 kW/ 265 Nm | 8.3 ℓl/100 km | R449 900 |
Tucson 1.7CRDi Executive | 85 kW/ 280 Nm | 4.7 ℓ/100 km | R449 900 |
Tucson 2.0 Elite outo | 115 kW/ 196 Nm | 9 ℓ/100 km | R469 900 |
Tucson 1.6 Turbo Executive Sport | 150 kW/ 295 Nm | 8.3 ℓ/100 km | R499 900 |
Tucson 1.6 Turbo 4WD Elite | 130 kW/ 265 Nm | 8.5 ℓ/100 km | R534 900 |
Tucson 2.0CRDi Elite | 131 kW/ 400 Nm | 6.7 ℓ/100 km | R539 900 |
Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelsel-waarborg en ‘n 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Ek ry nou al my 5de Hyundai…sal nooit weer iets anders ry nie. Hierdie motors is absoluut fantasties!
Ten spyte van ‘n paar stampe en stote aan die begin van die bekenstelling van Hyundai in SA het hy een van die mees suksesvolle buiteperde geword.
Hou so aan, ons mark het dit nodig.
Ek ry elke dag byna 160km en het so paar jaar terug besluit om iets goedkoop en ekonomies te koop, so toe koop ek ‘n Hyundai i10 1.2. Daar is nou amper 200 000km op die odometer en ek het letterlik nog niks moes vervang of regmaak nie, behalwe vir die bande en brieke. Ek sal Hyundai aanbeveel vir enige iemand!
Ek ry ook nou al jare ‘n Hyundai en ek sal ook nie sommer iets anders koop nie, dis betroubaar en bekostigbaar wanneer dienste en herstelwerk nodig is. Well done Hyundai!!
Ek deel die gevoel oor Hyundai met die kommentare hier bo.Ek is seker dis die hoof rede waarom General Motors ontrek het vir ‘n 2de (en hopelik laaste!) keer.Hulle kan net nie kers vashou by Hyundai,Kia en die Japanese nie!