Daar is ʼn paar voertuie wat soms oor ʼn motorjoernalis se pad kom wat net as perfek beskryf kan word. Ek dink dadelik aan die Toyota Corolla 1.4 D-4D Prestige wat ons ʼn ruk gelede getoets het. Vir ʼn gewone ryding kan mens nie beter koop nie. Of kan jy?
Toe ek by die bekendstelling van die opgekikkerde Golf 7.5 was, het ek ʼn klein draai gery met die Golf 1.0 TSi Trendline. ʼn Golf, met ʼn driesilinder-turbopetrol-enjintjie. Nee, man. As ek al ooit verkeerd was, was dit hieroor. In ʼn neutedop is die Golf TSI Trendline perfek. Dit is die eerste keer in ʼn geruime tyd dat daar ʼn Golf-aanbieding onder R300 000 op die mark beskikbaar is. Die pakket is perfek vir 99% van die publiek.
Die Golf lyk nes enige ander Golf, behalwe die GT- en R-reeks. Dit is regtig mooi afgerond en die bougehalte kan van ʼn afstand opgemerk word. As mens inklim, dan begin die Golf eers lekker voel. Party mense sê VW se ontwerpe is te konserwatief. Ek stem nie saam nie. Ek dink die eenvoudige ontwerp is deel van die sjarme.
Die kajuit is doelgerig uitgelê en daar is geen fieterjasies wat nie daar hoort nie. Die funksies wat mens wel graag wil hê, is almal byderhand, van die 6″-raakskermradio met Bluetooth tot die magdom lugsakke en veiligheidstelsels. Beenruimte vir die agterste passasiers is baie groter as wat ek verwag het en die kattebak sal 380 ℓ sluk voor hy versadig is.
Die 1.0-driesilinder-turbopetrol-enjin bied 81 kW en 200 Nm. Dit is dieselfde krag as die meeste 2.0-voertuie uit die tagtigerjare! Net sonder die skrikwekkende brandstofverbruik. Kan jy meer, 0 – 100 km/h duik op in slegs 9,9 sekondes en hy sal aanhou hol tot ʼn indrukwekkende 196 km/h. Twintig jaar terug moes mens ʼn behoorlike sportmotor gekoop het om sulke nommers te sien. Die Golf se brandstofverbruiksyfer van 4.8 ℓ/100 km is nog ʼn veer in die Golf se hoed. Die handratmodel ry lieflik en wissel seepglad tussen die ratte.
Die ritgehalte op die 195/65/15-bande is lieflik. Die vering is puik en stryk die meeste hobbels plat sonder om op die deurhandvatsels te val in die draaie. Padhouvermoë is uitstekend vir ʼn intreemodel en mens voel die GTi se DNS in die onderstel.
Nes met die Corolla ʼn ruk terug kan ek nie dink hoekom mens enigsins ʼn ander kar nodig het nie. Die Golf TSI Trendline is perfek indien jy ʼn luikrug wil hê.
Die reeks lyk só:
Golf 1.0TSI Trendline | 81 kW/200 Nm | 4.8 ℓ/100 km | R294 900 |
Golf 1.0TSI Comfortline | 81 kW/200 Nm | 4.8 ℓ/100 km | R308 900 |
Golf 1.4TSI Comfortline DSG | 92 kW/200 Nm | 5.2 ℓ/100 km | R361 900 |
Golf 2.0TDI Comfortline DSG | 81 kW/250 Nm | 5 ℓ/100 km | R366 900 |
Golf GTD | 130 kW/350 Nm | 5 ℓ/100 km | R506 900 |
Golf GTI | 169 kW/350 Nm | 6.4 ℓ/100 km | R545 900 |
Golf R | 213 kW/380 Nm | 7 ℓ/100 km | R657 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Ford Focus 1.0T Ambiente | 92 kW/170 Nm | 5 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 4 jaar/ 80 000 km-diensplan | R261 300 |
Mazda 3 1.6 Original | 77 W/144 Nm | 6.2 ℓ/100 km | 3 jaar/ onbeperkte km-waarborg 3 jaar/ onbeperkte km-diensplan | R264 000 |
Toyota Auris 1.6 Xi | 97 kW/160 Nm | 6.2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R303 300 |
Renault Megane 84kW Dynamique | 84 kW/156 Nm | 6.4 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km- diensplan | R264 300 |
Opel Astra 1.0T Essentia | 77 kW/170 Nm | 4.4 ℓ/100 km | 5 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R292 900 |
Daar is ʼn paar mededingers. Ek dink die Ford, Opel en VW met hul turbo-enjins is die ware mededingers. Ek het nog nie die Ford en Opel gery nie, maar bestuur hulle gerus almal en kies die een wat die beste pas.
Baie mooi berig, dit is nogals lekker om ander se opinie te lees rondom motors. My liefde vir motors kom van kleins af waar ek in die skaduwee van my pa in die “garage” grootgeword het. Terug na die berig, die Golf is in Europa die topverkoper vin VW. Sederd die koms van die Polo reeks in SA is die Golf ontroon as die beste verkoper in SA. Die Golf beskik oor Duitse kwaliteit en gehalte. Ek wonder nogal ten spyte van die bekendstelling van die nuwe Polo in 2018 deur VW wat daar nog uit die hoed gehaal gaan word? …. dalk ‘n Caddy LDV en die groet van die Vivo reeks en bekendstelling van ‘n “down graded” huidige Polo..
Geen woord gerep oor hoedat daardie brandstofverbruik ‘n totale versinsel deur VW is nie?
Die Duitse onafhanklike ADAC het die “Bluemotion” weergawe van hierdie Golf getoets en bevind dat dit 18% swakker brandstofverbruik kry as wat VW aanvoer, en selfs die ADAC se toetse was op ‘n “rolling road” eerder as in die werklikheid met verkeer en sub-optimale temperature, padoppervlaktes, ensovoorts.
As dieselfde 18% faktor op hierdie Golf toegepas word, verander daardie verbruiksyfer na iets meer soos 5.7 liter per 100 kilometer. In ‘n toets van hierdie model deur Autocar in die VK, het die joernalis oor ‘n tydperk van ‘n paar weke juis sowat 5.7 liter per 100 kilometer gekry, volgens die kar se eie aanduiding. Daardie aanduidings is berug dat hulle onakkuraat optimisties is. In werklikheid is dit waarskynlik selfs swakker.
Dit sou goed wees om aan potensiële kopers uit te wys dat hulle moet pasop vir die brandstofverbruiksyfers van hierdie piepklein turbopetrolenjintjies.