Geskiedenis gee ʼn tegnologieles

Foto: Verskaf

Ek is ʼn tagtigerbaba. Ek het grootgeword met TV- én rekenaarspeletjies. Alles nuwe tegnologie en modes. Dit is vir my vreemd dat een van die lande met ʼn asemrowende geskiedenis én ʼn respek vir oudmodiese tradisies so ʼn bekoring het met tegnologie. Japan is ʼn land van uiterstes.

Die Nissan GT-R is een van daai uiterstes. Ek onthou die ou hotplate Skyline wat ons hier in Suid-Afrika gekry het in die vorm van die tweedeur- Skyline 2.8 GTX. Terwyl ons dáái Skyline gekry het, was daar ʼn ware wonderkind nog heeltyd in Japan beskikbaar, die Skyline GT-R. Ek kan nie help om te wonder of die GT-R óóit só ʼn reuse-ikoon sou word in die res van die wêreld buite renbane sonder Vin Diesel en Paul Walker se hulp nie.

Foto: Verskaf

In 1969, slegs 24 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, het Japan hom so te sê heeltemal herstel. Nissan wou toe ʼn lekker warm hoëverrigting-weergawe van sy Skyline maak om mee te gaan jaag. Die Skyline GT-R KPGC10 het reusesukses in Japannese toerrenmotors behaal. Ná ʼn 16 jaar lange hiatus het Nissan in 1989 teruggekeer met die R32 Skyline GT-R. Dié keer met ʼn turboaangejaagde inlynsessilinderenjin, vierwielaandrywing en vierwielstuur. Die R32 het die JTCC (Japanese Touring Car Championship) vier jaar agtereenvogens gewen.

Dié GT-R het in Australië se toerrenmotorkampioenskap ook sukses behaal, dermate dat nét die GT-R in 1991 en 1992 gewen het. Dus het ʼn regulasieverandering die GT-R in 1993 verban. Australië se publikasie Wheels het die GT-R die bynaam Godzilla gegee. In motorkringe plak daai naam tot vandag toe nog.

Foto: Verskaf

Die R32 is opgevolg deur die R33 en uiteindelik deur die R34 wat dié motor kultusstatus die wêreld oor gegee het. In 2002 het Nissan opgehou om die R34 te produseer. In 2007 het Nissan sy asemrowende R35 GT-R bekendgestel. Die Skyline-naam is weggelaat en die GT-R-naamplaatjie het daardeur Nissan se vlagskip geword. In 2007 toe die GT-R bekendgestel is, was daar eenvoudig niks onder die supermotor-prysklas wat kon byhou nie. Tot van die supermotors wat miljoene gekos het, kon steeds nie byhou nie.

Nissan het weer sy ryk geskiedenis én hiperslim koppe gebruik om tegnologie te betrek wat die eerste GT-R’s van stapel kon stuur, en wel van 0–100 km/h in onder 3 sekondes. Hier in Suid-Afrika met ons vuil brandstof kan ons nie heeltemal daar uitkom nie, maar darem naby. Nissan het ook die lanseerbeheer effe rustiger gemaak. Van die oorspronklike modelle het ratkaste opgevreet omdat dit eenvoudig te aggressief was met die vierwielaandrywing.

Foto: Verskaf

Dit bring ons by die nuutste Nissan GT-R 50th Anniversary Edition. Die GT-R-naamplaatjie is vanjaar 50 jaar oud! Dit is steeds ʼn gewone GT-R met unieke kleurskemas. Die GT-R maak steeds gebruik van Nissan se formidabele VR38DETT 3.8 V6-turbo-enjin. Die enjin bied 410 kW en 632 Nm. Die beweerde 0–100 km/h is 2,9 sekondes en topspoed 315 km/h. Mark Jones, ʼn bekende motorjoernalis, kon in 2016 slegs 3,62 sekondes behaal by Gerotek in Petoria. Dit is te wyte aan ons brandstof en hoogte bó seevlak.

Op die pad is die kar indrukwekkend om party redes, en teleurstellend om ander. Die geraas is fantasties. Mens ruk en pluk aan die ratspane agter die stuurwiel net sodat die enjin deur die ratte spring met ʼn simfonie van geraas.

Foto: Verskaf

Waar die GT-R vir my nou minder indrukwekkend is, is as mens deur en deur na spoed kyk. Maar dit kom met ʼn voetnota. Die GT-R het in 2007 die wêreld op sy kop gedraai. In 2019, 12 jaar later, het al die ander vervaardigers opgevang. Mens kry nou ʼn C-klas-Mercedes-AMG met twee meer silinders, drie meer ratte, 68 meer newtons en twee minder wiele wat aangedryf word vir R1 m minder. Ongelukkig ly die GT-R onder Suid-Afrika se aggressiewe invoerbelasting. Die GT-R het aanvanklik in Suid-Afrika R995 000 gekos. Dit was ʼn ware winskoop. Met 42% van die R2 250 000 wat ongelukkig na die regering toe gaan, is die GT-R éintlik steeds ʼn winskoop.

Foto: Verskaf

Die GT-R se binneruim pas nog by die kar, maar as mens dit vergelyk met wat nóú daarbuite beskikbaar is, is die binneruim verouderd. Die 6-spoed-ratkas voel beslis of hy ʼn paar ratte te min het as mens rustig op die snelweg reis. Die ritgehalte is puik en die padhouvermoë verstommend. Ek dink ons het net die seekoei se ore ontdek, en as ek verder gegrou het, sou my passasier waarskynlik ʼn hartstilstand gehad het.

Dit bring my by my opsomming. Die Nissan GT-R is ʼn fantastiese motor. Dit het enorme dinge vir die motorbedryf én Nissan gedoen. As mens eers bietjie met hulle begin vroetel, is daar geen einde nie. Wilhelm Baard jaag met ʼn vreeslik opgeboude GT-R elke jaar by die Jaguar Simola Hillclimb … en Nissan wen, elke jaar. Die GT-R het kultusstatus bereik. Vir party is dit al wat hulle wil hê. Ek is gefassineer deur die geskiedenis, en die R32 roer verskriklik hard aan my hartsnare, maar vir nou is dié GT-R bietjie lank in die tand. Oor ʼn paar jaar sal hy weer bitter spesiaal wees wanneer ons almal in elektriese hommeltuie rondgekarwei word en die R36 GT-R ʼn hibridiese dryfstelsel het.

Die reeks lyk só:

Nissan GT-R Premium EditionR2 250 000
Nissan GT-R Black EditionR2 360 000
Nissan GT-R 50th Anniversary EditionR2 405 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 3 jaar/50 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

Ek is nie ‘n voorstaander vir ‘n tweedhandse super motor nie, maar hier moet ek die streep trek. ‘n GT-R met sowat 25 000km en minder en sowat 3 tot 4 jaar oud kan jy koop vir R1mij minder as die een se prys.
Ja, die een is spesiaal maar so ook is R1mil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.