Padindrukke: Honda Civic Tourer 1,8i V-Tec Executive

honda civic tourerIn die jongste uitgawe van Suid-Afrika se voorste motortydskrif wonder een van die redaksielede hoekom soveel mense sportnutsvoertuie koop en hulle nie gebruik vir die doel waarvoor hulle ontwerp is nie.

Daar is twee redes: ‘n sportnutsvoertuig bied meer ruimte as ‘n sedan of ‘n luikrug en is daarom meer geskik vir ‘n gesin. Daarby was daar nog nie werklik ‘n alternatief nie. Dit het egter nou verander; Honda het die Civic Tourer by die Johannesburgse internasionale motorskou gewys en hierdie model is pas hier bekendgestel.

Die Tourer is die stasiewa-weergawe van die Civic, wat omtrent twee jaar gelede hier bekendgestel is, en in Suid-Afrika is hy beskikbaar met dieselfde 1,8 liter enjin as die sedan en die luikrug, met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die vraag is of Honda ‘n onnosele besluit geneem het om hierdie model hier bekend te stel, en of Honda dalk iets weet wat ander vervaardigers nie weet nie.

Die Tourer is beslis nie in dieselfde klas as stasiewaens wat jare gelede so gewild was, maar waarvoor Suid-Afrikaanse motoriste hul neuse begin optrek het nie.  Dit is trouens ‘n uiters aantreklike motor, maar praktiese oorwegings is nie buite rekening gelaat nie. ‘n Mens hoef net na die binnekant te kyk om dit te besef.  Daar is ‘n net aan die binnekant wat selfs vorentoe geskuif kan word as die sitplekke platgeslaan word en ‘n groot item in die bagasiebak gelaai word, of as ‘n groot hond of twee vervoer moet word. Die sitplekke slaan heeltemal plat en die vloer is gelyk, met die gevolg dat daar geen probleme met lomp voorwerpe behoort te wees nie. Daar is ook ‘n uiters handige 12 volt-kragpunt vir ‘n klein yskassie, of watter ander items ingeprop moet word. As die kussings van die agtersitplekke teen die rugleunings platgeslaan word, kan ‘n potplant of ‘n fiets maklik staan gemaak word. Die enigste ernstige punt van kritiek, vanuit ‘n praktiese oogpunt, is dat ruimtebesparende noodwiel onder die bagasiebak se vloer is.

Agter die stuur is die Civic Tourer net so indrukwekkend. Daar is ‘n uitstekende klankstelsel, volle klimaatbeheer en feitlik elke kenmerk wat ‘n mens van ‘n voertuig in sy klas kan verwag, behalwe satellietnavigasie.  Die instrumentepaneel is, soos met die res van die Civic-reeks, ‘n aangeleerde smaak. Dit is in twee verdeel; bo is daar ‘n digitale spoedmeter, waarskuliggies en die uitleespaneel van die ritrekenaar en die radio, wat ook ‘n vloeikristal-wyserhorlosie insluit. Die onderste gedeelte bestaan uit die toereteller en die brandstof- en temperatuurmeters.  Die kontroles vir die klankstelsel en die klimaatbeheer is byderhand en maklik om te gebruik.

Honda het, soos die meeste Japanse vervaardigers, die versoeking weerstaan om klein enjins met turbo-aanjaers vir hul motors te gebruik, en die Tourer se 1,8 liter enjin steek dalk ‘n bietjie af by mededingers wat baie dieselfde kraglewering uit kleiner turbo-aangejaagde enjins kry. Dit het egter sy voordele; daar is geen sprake van traagheid wanneer daar weggetrek word nie, en as jy jou voet op die versneller sit, is die krag onmiddellik daar. Daar is ‘n paar kenmerke wat jou help om brandstof te bespaar, naamlik die Eco-funksie, wat die enjintoere laag hou, en ‘n ratwyser, wat jou aanraai wanneer om ratte te wissel vir maksimum brandstofdoeltreffendheid. Daar is ook drie verstellings vir die veerstelsel, naamlik Normal, Comfort (vir gemak op slegte padoppervlaktes) en Dynamic (wat die veerstelsel effens harder maak en geskik is vir wanneer ‘n mens geesdriftig wil bestuur). Dit sal dalk vir sommige mense ‘n aantreklike kenmerk wees, maar ‘n mens wonder of dit nodig is. Die toetsmodel het die sesgang-handratkas gehad; ‘n outomatiese sesgangratkas is ook beskikbaar, maar op ‘n motor soos hierdie en is ‘n handratkas beter. Dit is moeilik om nou al te bespiegel oor brandstofverbruik, maar ‘n mens kan seker wees dat die Tourer nie so lig op brandstof sal wees soos ‘n motor met ‘n kleiner turbo-aangejaagde enjin nie. Die brandstoftenk hou 50 liter, en ‘n mens behoort omtrent 650 km daarmee te kan haal.

In die 1970’s en 1980’s was stasiewa-weergawes van motors soos die Peugeot 404 en 504, die Volkswagen Passat, die Toyota Cressida en die Ford Cortina en Sierra uiters gewilde gesinsmotors, maar toe voertuie soos die Toyota RAV 4, die Nissan X-Trail en Honda se eie CR-V op die mark gekom het, het mense op stasiewaens begin neersien. Daarom was die bekendstelling van die Civic Tourer ‘n uiters dapper besluit van Honda. Dit is moeilik om te verwag dat die Civic Tourer eiehandig sal maak dat stasiewaens weer gewild word, maar Honda moet gelukgewens word met hul inisiatief.  Dit is nie nodig om ‘n sportnutsvoertuig te koop nie; die Civic Tourer is ‘n lewensvatbare alternatief. Die Suid-Afrikaanse publiek moet dit net besef, maar of dit gou gaan gebeur, is ‘n ander vraag.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae