Deesdae word daar regtig waar amper geen slegte voertuie meer verkoop nie. Hier en daar is daar ʼn goggatjie wat nie eintlik daglig moes sien nie, maar nietemin – meeste voertuie is goed. Van hulle is doodgewone motors. Ander is luuks. Partykeer is die sinergie tussen luuks en krag nie in harmonie nie.
Die eerste Lexus NX waarmee ek gery het, het presies daardie probleem gehad. Dit was die Lexus NX300h. Dié Lexus het ʼn 2,5 atmosferiese viersilinderenjin, gekoppel aan palwisseltransmissie. Die eindresultaat is ʼn luukse motor wat nie baie luuks voel nie. Ja, hy is lig op brandstof, maar dit is nie veronderstel om ʼn ekonomiese voertuig te wees nie, dis veronderstel om luuks te wees.
Welkom aan die oplossing, Lexus se 2,0 viersilinderturbopetrolenjin. Dié enjin bied 175 kW en ʼn sterk 350 Nm. Die outokas in dié NX is ʼn konvensionele outomatiese ratkas met ʼn wringkragomsitter, en die resultate is puik. 0 – 100 km/h neem slegs 7,1 sekondes en die NX sal aanhou tot 200 km/h. Die kragsyfers vertaal in ʼn lieflike golf wringkrag wat ʼn mens na die horison stoot, sonder moeite. Indien ʼn mens werklik haastig raak, los net jou voet in die mat en sodra die omwentelinge by 4 500 trek kom die groot perde. Die NX voel regtig vinnig.
Die binneruim is luuks, tog Japans. Dit is logies uitgelê en voel vir my ergonomies. Ek het nie te veel kwale met die mousepad-kontrole vir die inligtingstelsel nie, maar verskeie van my motor-kollegas sê hulle kon die stelsel glad nie baasraak nie. Ek het eerder ʼn appeltjie te skil met die uitleg en teks van die skerm – dit lyk nie so modern soos die eksterieur ʼn mens laat hoop dit is nie.
Die ritgehalte op die NX300 E spesifiek is regtig sag en gemaklik weens die kleiner wiele met ʼn behoorlike bandprofiel. Al is die ritgehalte sag is daar nie hope bakrol in die draaie nie. Al waar die NX300e stout raak, is as ʼn mens te roekeloos raak met die versneller. Dan kan die voorbande sukkel om die 175 kW en 350 Nm baas te raak.
Die NX300e is vir die gesin wat ʼn sportnutsvoertuig wil hê, met beter grondvryhoogte, maar nie die behoefte aan vierwielaandrywing het nie. In dié klas is daar nie een ander sportnuts met dié krag, sonder vierwielaandrywing nie – wat swaar en duur is indien ʼn mens dit nie nodig het nie.
Die NX is kompeterend geprys teen sy direkte mededingers, en bied ʼn lieflike enjin en ritgehalte. Ek sou hom beslis nie miskyk nie.
Die reeks lyk só:
Lexus NX300 E | 175kW/ 350Nm | 7.9ℓ/100km | R606 000 |
Lexus NX300 EX | 175kW/ 350Nm | 7.9ℓ/100km | R684 100 |
Lexus NX300 F Sport | 175kW/ 350Nm | 7.9ℓ/100km | R797 500 |
Lexus NX 300h EX | 150kW/ | 6ℓ/100km | R735 500 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 4 jaar/ 100 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Audi Q3 1.4TFSI S outo | 110kW 250Nm | 5.8ℓ/100km | 1 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R516 500 |
BMW X1 sDrive 20i outo | 141kW/ 280Nm | 6.2ℓ/100km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R585 104 |
Turbo aangedrewe ?
Ja, die eerste model was sonder ‘n aanjaer maar die nuwe model het een.
Van agter lyk hy baie soos die Nissan Qashqai
Die Lexus teen die prys gaan maar sukkel teen die BMW en Audi. SA kopers is baie “brand” bewus.
Dis jammer want die Lexus is baie beter gebou en hy gaan baie langer hou. Soos jy sê: “…mense is baie lojaal”. Hulle koop ongelukkig daardie duitse voertuie net vir status.
@Vraagteken. Ek stem nie saam nie want ek het al die make voertuie gery. Na alles hou ek die meeste van Duitse voertuie want hulle ry gemaklik en lekker. Hulle is super luuks met ‘n baie hoe veiligheid standaard—Iets wat ek baie hoog ag in SA agv die hoe ongeluksyfers. Duitse voertuie gee die pas aan wat luuksheid, veiligheid, werksverrigting, brandstofverbruik. Ek dan kom die goeie aankoopprys daarby. As ‘n ou toyota aanhanger het my oe oopgegaan na my eerste Duitse motor. Probeer een.
@Koos1 Ek stem saam. Die Lexus se prys is sy eie groot vyand. Wat nuwe kopers verder sal afskrik is die slegte petrolverbruik. 7.9L /100KM is ‘n bakkie se verbruik. BMW, Audi en MB is die meer aanvaarbare keuse as jy na luuksheid, prys en brandstofverbruik kyk.