Vergelyking: Stryd van die titane

Ek het ʼn geruime tyd terug die nuwe Land Rover Discovery gehad om te toets.

Aanvanklik wou ek die Discovery met Toyota se Prado vergelyk – maar om twee redes het ek besluit om hom eerder met Toyota se Land Cruiser 200 te vergelyk. Die 200 het ʼn V8-dieselenjin, en hulle kos dieselfde… so ongeveer R1,3 miljoen. Toe kom gooi Nissan ʼn derde knuppel in die hoenderhok met hul nuwe Patrol.

Die ontwerp van die Toyota en Nissan volg dieselfde trant – albei is reusagtig en kan sewe mense huisves. Die Land Rover bereik dieselfde eindbestemming – maar voel heelwat kleiner as die ander twee aan die buitekant.

Die Discovery se binneruim is baie meer modern uitgelê as die ander twee en het elke denkbare funksie om mens se gemak te waarborg. So ook met die Toyota en die Nissan – maar daai twee voertuie voel meer tradisioneel in hul benadering. Die Nissan se sitplek kan vir my net nie gemaklik raak nie – ek het herhaaldelik aan hom probeer stel, maar kon net nie perfek gesit kry nie.

Al die mededingers in dié segment het ʼn verskriklike spesifikasievlak. Die Land Rover en Nissan het 6 lugsakke, waar die Toyota uitblink met ʼn asemrowende 10. Die veiligheidsaanbieding word versterk met ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding op al drie mededingers.

Almal het outomatiese skerp hooflig-hulp wat die skerpligte self aan- en afskakel soos nodig. Al drie mededingers het aanpasbare spoed en baanbeheer met blindekolhulp. Verhitte en verkoelde sitplekke voor verseker dat passasiers altyd gemaklik is, warm of koud.

Waar die drie voertuie die grootste verskil, is in die enjinafdeling.

Die Discovery het die kleinste enjin met ʼn turboaangejaagde 3.0 V6-diesel. Dié enjin bied ʼn indrukwekkende 190 kW en 600 Nm en Land Rover beweer dit het ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7.8 ℓ/100 km. 0 – 100 km/h neem slegs 8.1 sek en die Discovery sal 209 km/h haal. Die Land Cruiser is die naaste aan die Discovery met ʼn romerige 4.5 V8-turbodieselenjin. Dié enjin bied 195 kW en 650 Nm wat hom van 0 – 100 km/h kan stoot in 8.6 sek en 210 km/h. Toyota sê hy sal 10.2 ℓ/100 km handhaaf.

Die Nissan Patrol is die skobbejak tussen die drie met ʼn atmosferiese 5.6 V8-petrolenjin. Die enjin bied dalk 298 kW en 560 Nm – maar hy benodig 14.4 ℓ/100 km, sê Nissan. Nissan dui nie ʼn 0 – 100 km/h tyd aan vir die Patrol nie, maar die Patrol voel verskriklik vinnig en sterk van 100 km/h af verder. Gevaarlik vinnig.

Die ritgehalte in die drie voertuie is uit die boonste rakke. Die Discovery het vir my die beste maniere tussen die drie en raak sy proporsies en gewig beste baas tussen hulle. Die sagste en stilste rit gaan aan die Cruiser 200 – dit voel skoon asof hy sweef.

Dit kan met tye bietjie afgesonder voel van wat met die wiele op die pad aangaan, maar dit is geensins ʼn sportmotor nie, en die luuksheid is belangriker as stuurterugvoer. Die Patrol se onderstel voel vir my geïntimideer deur sy eie enjin.

Dié drie voertuie is heel bo aan die sportnutsvoertuig-voedselketting. Al verskil hulle almal in hul benadering, is die eindproduk onweerlegbaar.

Die Patrol val ongelukkig vir my heel eerste uit die bus weens sy brandstofverbruik. Ons gaan binnekort oor die R17 ʼn liter moet opdok. Dit is R2 380 om vol te maak, en dan slegs 933 km ver te kan ry. Die Cruiser kos R2 384 en kan dán 1 352 km/h handhaaf. Die Discovery kos R1 445 en sal 1 089 km kan bied, by verre die wenner in die brandstofafdeling.

Waar die Discovery ʼn paar punte verloor is weens sy sensitiwiteit vir hoërsulfaatdiesel. Die Cruiser is minder sensitief daarvoor. Ek glo dat, indien mens deur Suider-Afrika toer, dat jy iewers hoësulfaatdiesel gaan teëkom, en dan is die Cruiser jou beste opsie.

Al drie voertuie het asemrowende 4×4-stelsels wat hindernisbane soos kinderspeletjies laat lyk. Die behoorlike bandprofiel op die Cruiser en Patrol sal lekker kan afblaas om die dikste sand te kan baasraak, waar ook al jy jou mag bevind.

Ek is bitter lief vir die Discovery, maar sy lugvering en tegnologie maak my benoud as daar nie handelaarbystand naby is nie. Die Patrol se brandstofverbruik is vir my net te wild – maar mens moet onthou dat ek nie in dié prysklas val nie.

Die bitter sterk herverkoopwaarde en groot handelaarsnetwerk van die Cruiser swaai die argument finaal vir my. Dis waarop ek my geld sou spandeer, indien ek ooit so bevoorreg was.

Dié drie vergelyk só:

Nissan Patrol 5.6 V8 LE Premium298 kW/ 560 Nm14.4 ℓ/100 km6 jaar/ 150 000 km-waarborg

3 jaar/ 90 000 km-diensplan

R1 353 500
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D VX-R195 kW/ 650 Nm10.2 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R1 372 800
Land Rover Discovery HSE Luxury Td6190 kW/ 600 Nm7.8 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/ 100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 381 606

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JoeV ·

Absoluut belaglik! Vol grote sportnutsvoertuie kos in die res van die wereld 200 duisend rand minder as die half grotes hier by ons
Toyota Sequoia TRD Sport kos teen R15.dollar R898095 en bied myle meer in alle aspekte
Nissan Armada Platinum Reserve, teen R15/dollar is R1007175, en is luuks, maar luuks! en ‘n goeie deel meer voertuig as die lot half grote voertuie.
Die bakkies dieselfde, ons word heerlik deur die ore gewerk in Suid Afrika met pryse as mens in gedagte hou die vol grote bakkies word in die VSA gebou en is in dieselfde prysklas, mens jy kan amper ‘n U-draai agter op ‘n Tundra of Tucuma maak met ‘n Hillux. Selfde met die Nissan Titan. Daar is ‘n luukse Titan teen R960k wat dieselfde afwerking binne het as die Armada, die een met plastiek binne is in die omgewing van 54k USD…

marco polo ·

Kan hierdie goed nog 4×4 ry? Ek praat nie van hindernisbane nie, maar lang togte deur Afrika, swaar gelaai, met geen padbystand in sig nie. Nee dankie, ek verkies my ou Land Rover wat ek self aan kan werk as iets fout gaan.

Gerhard ·

Die LC en Patrol kan maar die Discovery hoort op ‘n teerpad. Die Patrol is ook effens groter as die LC. Dit is ook beter om dit met die petrol weergawe LC vergelyk, nader aan mekaar. Ek sal ook nie sommer die diesel weergawe LC maklik vertrou met swak gehalte diesel nie. Het teveel van probleme daarmee in ander lande gehoor.

Rupert Ashford ·

Maak sin met jou kommentaar Gerhard. Onthou jy het amper met ‘n Toyota advertensie te make hierso…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.