Aardklop: Kuns wat die geskiedenis asem gee

Johan Stegmann voor die Monument, waar die toer begin het. (Foto: Verskaf)

Johan Stegmann is die eerste kontemporêre kunstenaar wat toegelaat is om sy kunswerke in die Voortrekkermonument self uit te stal. Die uitstalling, getiteld ʼn Goeie dag vir ʼn Slag, is juis tuis in dié uitstalruimte omdat Stegmann se kunswerke met die historiese fries wat die Groot Trek en Slag van Bloedrivier uitbeeld, in gesprek tree.

Die uitstalling se titel sit ʼn mens reeds aan die dink – enersyds kan dit verstaan word as “uiteindelik ʼn goeie dag”, en andersyds as “die perfekte dag om die Zoeloes die stryd aan te sê”.

Op die trappe voor die Voortrekkermonument ontmoet ʼn groep van ons die kunstenaar self, asook die uitstalling se kurator, Dineke van der Walt. Saam betree ons die monument se binneruim, waar Johan die fries se verhaal kortliks vir ons vertel. Dis nodige kennis vir die kunsuitstalling waarheen ons op pad is.

“Wat mens hier sien, is ʼn perspektief op die geskiedenis. My werk sê: kyk na die fries, waardeer dit, maar onthou dat dit net een van vele perspektiewe uitbeeld. Die feite van die geskiedenis is op die ou end nie so belangrik soos hoe dit ons laat voel nie,” sê Stegmann.

Af met die spiraaltrappies daal ons na die senotaafsaal. Stegmann se uitstalling is tydelik tussen die permanente kunswerke geplaas. Ek is verras oor hoe klein en gedetailleerd die meeste van sy etse en houtskoolsketse is, maar Van der Walt verduidelik dat dit ʼn mens juis nooi om nader te kom, om fyner te kyk en dieper te dink.

Stegmann se werk is altyd dualisties, voeg sy by. “Johan se kuns vra vrae, eerder as wat dit antwoorde gee. Dit aktiveer jou denke. Hoe langer jy na ʼn kunswerk kyk, hoe beter kan jy besluit wat dit vir jou beteken.”

Die groep by vier van Stegmann se houtskoolsketse (Foto: Verskaf)

In een kunswerk, getiteld “Alle mooi vroue woon in Orania”, stel hy byvoorbeeld vrae oor die idee wat ons histories oor vroue het, teenoor die kontemporêre vrou. Hy verduidelik: “Die tradisionele Afrikanerkultuur is patriargaal, maar die ou tyd se vroue word as baie dapper en sterk uitgebeeld. Vandag se vroue is oënskynlik meer vry. Maar vra die vraag: Wie is onderdruk, wie is vry? Trek ons nie maar weer laer in sekuriteitskomplekse nie? Is ons nou nog so dapper soos toe?”

Die kunswerk oor Bloedrivier span die kroon op dié uitstalling. In elk van die drie panele het hy twee verskillende perspektiewe in een beeld saamgevoeg – die tradisionele en die moderne. Die linkerpaneel anker die Afrikaner-perspektief en die regter die Zoeloe-perspektief. In dié kunswerk is slagoffers van plaasmoorde ingewerk. Jy herken vir Steve Hofmeyr daar in die rol van Piet Retief, terwyl Julius Malema as Dingaan uitgebeeld word. Binne die laer is ʼn tenk te sien en in die lug sirkel ʼn helikopter.  Die grusaamheid van die slagveld word met bepaalde elemente in verband gebring met die rowwe en onbeskofde middestad van Johannesburg.

Johan by sy kunswerk oor Bloedrivier. (Foto: Verskaf)

Stegmann glo dat elke mens op ʼn persoonlike vlak met die geskiedenis moet werk en worstel. “Ek is Afrikaans en staan nie neutraal teenoor die geskiedenis nie. In my kunswerk beeld ek my voorafopgestelde idees uit en werk so daardeur. Wanneer ek kritiek lewer, is dit vir my belangrik dat ek myself ook impliseer, die fout binne myself soek. As ek dit wel binne myself kry, is dit immers eg, en is die kritiek geregverdig.”

Dié uitstalling waai soos ʼn vars bries deur die monument. “Geskiedenis moet asem kry, anders gaan dit dood. Deur middel van kuns kan mense juis nuwe perspektiewe kry en opinies oor die geskiedenis vorm. Werklik goeie kuns kry mense aan die dink.”

Stegmann se kunswerke het die potensiaal om die kyker se perspektief op die geskiedenis te verryk en verdiep. Jy pak beslis die tog teen die trappe af met genoeg stof tot nadenke aan.

  • Daar is nog op Saterdag 2 Oktober en Sondag 3 Oktober ʼn visuele kunste begeleide toer by die Aardklop-opwipfees. Die toer begin op die trappe van die Voortrekkermonument. Kaartjies kos R20. Bespreek by Ticketpros.co.za of besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting oor vanjaar se produksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.