Denétjie vind haar stem op TikTok

Dené Lindeque Fouché. (Foto: Dené Lindeque Fouché/Instagram)

Dené Lindeque Fouché het uiteindelik haar stem gevind en haar roeping ontdek – alles danksy ʼn video wat sy vir die blote snaaksigheid op sosiale media gedeel het.

ʼn Jaar gelede het Dené (21), oftewel Denétjie soos wat sy op sosiale media bekendstaan, nie gedink dat TikTok enigsins ʼn rol in haar lewe gaan speel nie. Tog weet sy vandag dat die gehoor wat sy op dié platform gekry het, ʼn Godgewe seën in haar lewe is.

“Ek het nie eens TikTok op my foon gehad nie,” bieg Dené, wat vanjaar met haar studie aan die Universiteit Stellenbosch begin, aan Maroela Media.

Dené het in 2023 bekendheid verwerf nadat sy ʼn video oor Brendan Peyper gemaak het. Daar is pas aangekondig dat hy die nuwe alleenloper vir kykNET se maatsoekprogram, Op my eish!, sou wees, en Dené het geweet dat daar ander vroue daar buite is wat ook so opgewonde oor die nuus soos sy sou wees. Sy het daarna begin om video’s op te laai waar sy Brendan as haar “man” beskryf, hoewel dit eintlik net tong in die kies bedoel was.

Sedertdien het sowat 70 000 mense haar op TikTok begin volg.

@thebrendanpeyper

#duet with @Denetjie02 #Duet Moenie so jealous wesi , jy weet mos ????

♬ Moegdans – Brendan Peyper

Mense het selfs hul misnoeë uitgespreek dat sy nie een van Brendan se top-12 was in die eerste episode van die jongste seisoen van Op my eish! nie.

“Ek kry nog elke dag boodskappe wat vra waarom ek nie daar is nie,” vertel Dené.

“Ek is nou op universiteit. Ek gaan nie my alles kan gee nie, en ek is nie ʼn meisie wat gaan kompeteer vir ʼn man se aandag nie. Ek weet dat ek nie myself sou kon wees op só ʼn program nie.

“As ek en Brendan eendag dalk iets sal wees, sal dit organies gebeur. Dit sal nie in die openbaar of op sosiale media gebeur nie.”

Sy vind haar roeping

Alhoewel mense haar begin volg het vir haar skerp sin vir humor en snaakse video’s, het Dené besef dat sy haar platform wil omskep in ʼn plek waar mense, veral vroue, tuis voel. Sy erken selfs aan Maroela Media dat TikTok haar laat besef het dat sy eendag graag ʼn motiveringspreker wil wees.

“Met die influencers daar buite sien ons altyd net die mooi. Ons sien hoe hulle oefen, en hoe perfek hul lewe is. Ek het net besef dat ek nie daardie persoon wil wees nie.

“Ek wil vir girls sê dat almal met onsekerhede sukkel, en dit is oukei, dis ʼn reistog waardeur jy elke dag moet werk. Ek doen steeds elke dag. Die wêreld is nie perfek nie.”

(Foto: Dené Lindeque Fouché/Instagram/Deon van Wyk Productions)

Dené vertel dat sy nog altyd opgelet het hoe maklik vroue hulself afkraak. Dit het haar opnuut laat besef dat vroue eintlik met presies dieselfde soort probleme sukkel, en meer gemeen het as wat daar besef word.

“Toe ek op my beste gelyk het, het ek erg gesukkel met ʼn swak selfbeeld. As ek nou daaraan terugdink, het ek waarskynlik ʼn eetsteurnis gehad. Ek was nog nooit die klein, maer meisie nie, maar ek besef nou dat die meeste foto’s van modelle erg geredigeer word. Noudat ek self vir ʼn paar fotosessies gegaan het, sien ek hoe my eie foto’s net so erg geredigeer word.

“Ek kom agter al die goed wat ons sien wat ons so beïnvloed, is fake. Meisies lyk nie so nie. Almal het selluliet, almal het kurwes – dit word net weggeredigeer.”

Van jongs af reeds volwasse

Dené het hoërskool in die middel van die Covid-19-pandemie in Middelburg voltooi. Haar ma en jongste boetie het aan die begin van haar matriekjaar Modimolle toe getrek, sodat hy sy hoërskoolloopbaan reeds in gr. 8 daar kon begin.

Dit het natuurlik beteken dat sy die laaste jaar van haar skoolloopbaan op haar eie moes aanpak, en hoewel dit uitdagend was, skryf sy vandag haar volwassenheid daaraan toe.

“Dit was moeilik, maar ek sal dit vir niks verruil nie, want dit het my emosioneel sterk gemaak. Jy leer cope.”

(Foto: Dené Lindeque Fouché/Instagram)

Sy onthou hoe sy destyds nie ʼn matriekafskeid gehad het nie, en dat sy nie te midde van ʼn pandemie universiteit toe wou gaan nie. Daarom het sy kort nadat sy haar matrieksertifikaat in die sak gehad het, besluit om in die VSA as ʼn au pair te gaan werk.

Daar was sy aanvanklik vir ses maande by ʼn gesin in Wisconsin, voordat sy na ʼn gesin in Atlanta, Georgia, geskuif het. Dit was so hittete of sy het by ʼn Amerikaanse universiteit studeer.

“Dit was die plan. Ek het reeds ʼn beurs gehad om daar te studeer, en het letterlik al my goed daar gelos om in Suid-Afrika te kom aansoek doen vir my studentevisum.”

Haar visum is toe ongelukkig afgekeur, wat haar genoodsaak het om ʼn plaaslike oplossing in Stellenbosch te vind.

‘Vat ʼn oomblik vir die Here’

Haar geloof speel ʼn reuserol in haar lewe, erken Dené. Inteendeel, wanneer sy nie tyd in ʼn dag neem om stil te word en met die Here te praat nie, voel sy hoe die negatiwiteit aan haar kleef.

“Dit gaan oor prioriteite. Jy is besig met hierdie, hierdie en hierdie en kort voor lank sê jy ‘maar ek het nie by die stiltetyd uitgekom nie’, maar eintlik het jy ʼn uur lank gelê en deur TikTok geblaai.

“Jy het nie eens ʼn uur nodig vir stiltetyd nie, die Here vra nie baie nie.”

(Foto: Dené Lindeque Fouché/Instagram/Deon van Wyk Productions)

Haar geloof is haar anker wanneer die negatiewe kommentaar op sosiale media vir haar net ʼn greintjie te erg raak.

“Ek kan voel ek sukkel om met die negatiewe kommentaar te cope as ek nie my tyd met die Here gehad het nie. Mense kan vinnig vir jou sê wie en wat jy is – en dit is dikwels glad nie waar nie.”

ʼn Boodskap vir vroue nes sy

“Moenie dink dat iets nie gaan gebeur nie. Moenie wens en wag vir iets, en verwag dat dit nie gaan gebeur nie,” is ʼn boodskap wat sy graag met mense deel.

“Ek het nog altyd ʼn droom gehad om my naam daar buite te kry. En almal het gesê dat dit ʼn simpel droom is.

“Gewildheid is lekker, maar mens moet emosioneel sterk wees om dit te kan hanteer.”

Daarom glo sy dat jy bewus moet wees van dit waarvoor jy wens, en dat jy jouself geestelik daarop moet voorberei.

“Wees versigtig waarvoor jy wens, want dit kan gebeur! Dit kan óf ongelooflik wees, óf aaklig as jy nie geestelik reg is daarvoor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.