Hoe lyk Hollywood: ‘Friends’-reünie uitgestel oor Covid-19; voormalige kinderster swanger

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Friends-reünie uitgestel oor Covid-19

Al ses die sterre van die gewilde reeks ‘Friends’ sou te sien wees in die spesiale reünie-program, waarvoor daar glo geen teks sou wees nie. (Foto: IMDb)

Aanhangers van die komediereeks Friends sal hul asems nog ʼn rukkie langer moet ophou vir die lankverwagte reünie nadat die verfilming, wat vandeesmaand sou plaasvind, tot Mei uitgestel is.

Volgens The Hollywood Reporter is ʼn datum vir die verfilming nog nie vasgemaak nie. Verteenwoordigers van die televisienetwerk HBO Max en vervaardigers Warner Bros. TV wou nie kommentaar lewer nie.

Al ses die sterre van dié gewilde reeks sou te sien wees in die spesiale reünie-program, waarvoor daar glo geen teks sou wees nie. Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc, Matthew Perry en David Schwimmer sal saam met die skeppers van die reeks, David Crane en Marta Kauffman, te sien wees.

Die akteurs sal glo elkeen sowat $3 miljoen verdien vir die spesiale program. Dit is meer as dubbel wat hulle verdien het per episode toe die reeks oorspronklik uitgesaai is. Die groep het destyds opslae gemaak toe hulle saam hul salarisse heronderhandel het en elkeen $1 miljoen per episode verdien het.

Voormalige kinderster swanger

Amanda Bynes en haar verloofde, Paul Michael. (Foto: Instagram)

Amanda Bynes, die aktrise wat as Nickelodeon-kinderster naam gemaak en later in flieks soos She’s the man en Easy A gespeel het, is swanger.

Bynes het ʼn foto op haar Instagram-rekening gedeel met die onderskrif: “Baby in the making [sic].” Dié plasing is intussen uitgevee, maar bronne het aan E! News en People bevestig dat die aktrise in die vroeë stadium van swangerskap is.

Dié nuus kom nadat Bynes aangekondig het dat sy en haar verloofde, Paul Michael, hul verlowing verbreek het. Die paartjie het op Valentynsdag verlede jaar verloof geraak. Dit blyk egter nou dat hulle weer bymekaar is. Dit is haar en Michael se eersteling.

Hoewel inligting oor Michael skaars is, is dit alombekend dat hy en Bynes mekaar in ʼn rehabilitasiesentrum ontmoet het. Volgens berigte word Bynes, wat ʼn lang geskiedenis met dwelm- en alkoholmisbruik het, ook tans in ʼn sentrum vir geestesgesondheidsprobleme behandel.

Akteurspaar skenk groot geld vir Covid-19-verligting

Blake Lively en Ryan Reynolds. (Foto: Charles Sykes/Invision/AP)

Die akteurspaar Blake Lively en Ryan Reynolds het $1 miljoen geskenk aan die Feeding America- en die Food Banks Canada-organisasie.

Dié organisasies staan tans mense by wat in nood verkeer weens die uitbreking van die koronavirus (Covid-19)-pandemie.

“Covid-19 het ʼn brutale impak op ouer volwassenes en gesinne wat ʼn lae inkomste verdien. Ek en Blake skenk $1 miljoen om gedeel te word tussen Feeding America en Food Banks Canada,” het die Kanadese akteur oor die skenking op sy Instagram-rekening gesê.

“Versorg julle liggame en harte. Los spasie vir vreugde. Bel iemand wat geïsoleer is en moontlik iemand nodig het,” het die Deadpool-ster gesê.

Bronne: People, E! News, The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.