Hollywood: Prins William, Kate op YouTube; rocker se familie, dokter skik

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Prins William, Kate begin eie YouTube-kanaal

‘n Skermgreep van ‘n speelse oomblik uit Kate Middleton en prins William se nuwe YouTube-video.

Prins William en sy vrou, Kate Middleton,  het nou hulle eie YouTube-kanaal. Die hertog en hertogin van Cambridge het dié nuus Woensdag met ʼn nuwe video aangekondig.

Die video bied beeldmateriaal van hoogtepunte uit Kate (39) en William (38) se koninklike verpligtinge, insluitende ʼn brokkie waar Kate met ʼn pyl en boog skiet in Bhutan en waar William ʼn helikopter beheer.

Kate en William het ook hulle Instagram-rekening opdateer van @KensingtonRoyal na @DukeandDuchessofCambridge, hoewel hul Twitter-bladsy @KensingtonRoyal bly.

KensingtonRoyal het voorheen ook prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, bedien voordat hulle onafhanklike rekening, @SussexRoyal, geskep is. Dié rekening is intussen gesluit nadat hulle die tuig as senior koninklikes neergelê het, hoewel die oorspronklike inhoud nog daar te sien is.

William en Kate het verlede week hul tiende huweliksherdenking gevier. Hulle het saam met twee nuwe pragfoto’s ook ʼn kort video uitgereik waarin hulle lewe saam met hul drie kinders, prins George (7), prinses Charlotte (6) en prins Louis (3), uitgebeeld word.

Rocker se familie, dokter skik

Chris Cornell. (Foto: Facebook/Chris Cornell)

Die ontslape rocker Chris Cornell van die groep Soundgarden se familie het volgens hofdokumente ʼn ooreenkoms bereik met ʼn dokter oor beweerde mediese wanpraktyke nadat hy “gevaarlike” en “psigotiese” medisyne voorgeskryf het. Daar is aangevoer dit was die moontlike oorsaak van Cornell se dood.

Cornell het in 2017 sy eie lewe geneem. Die rocker was 52 jaar oud en is oorleef deur sy vrou, Vicky Cornell, hul dogter Toni (nou 16) en seun Christopher Nicholas (nou 15).

Die familie het in 2018 dr. Robert Koblin, ʼn internis en kardioloog wat in Beverly Hills praktiseer, gedagvaar nadat hy ʼn voorskrif vir Cornell gegee het sonder om hom te ondersoek. ʼn Middel teen angs wat voorgeskryf is, is in sy bloedstroom gevind ten tyde van sy dood.

“Ná jare se hofsake en onderhandelings het die klaers en Koblin (en die Robertson Cardiovascular Center LLC) ʼn vertroulike skikkingsooreenkoms bereik,” het Cornell se familieprokureur in hofdokumente gesê wat in April in ʼn Los Angeles-hof gebring is.

“Ongelukkig, soos met die geval van vele bekendes, het hierdie aksie die aandag gelok van bemoeisieke individue wat die klaers teister, deur onder meer dreigemente teen die lewens en veiligheid van Toni en Christopher Nicholas Cornell [Chris Cornell se kinders] te maak.”

Die oorspronklike hofsaak, wat E! News onder oë gehad het, voer aan dat Cornell se familie die dokter gedagvaar het vir “nalatigheid en die herhaaldelike voorskrifte vir gevaarlike middels wat [Cornell se] kognisie kon aantas, sy oordeel vertroebel en daartoe kon lei dat hy gevaarlike, impulsiewe gedrag getoon het wat hy nie kon beheer nie en uiteindelik sy lewe gekos het.”

Chris Cornell se gesin op sy gedenkdiens in 2017. (Foto: Facebook/Chris Cornell)

Volgens CNN voer die dokter se prokureur aan dat die voorskrifte nie onvanpas was nie. “Dr. Koblin is ʼn bekwame en pligsgetroue dokter wat ʼn uitstekende dokter-pasiënt-verhouding met mnr. Cornell en ander lede van sy gesin gehad het,” het die prokureur in 2018 in ʼn verklaring gesê.

“Die kenners met wie ek gekonsulteer het, glo dr. Koblin se behandeling was op standaard met die gesondheidsorg in die gemeenskap en was nie ʼn wesenlike faktor wat kon lei daartoe dat mnr. Cornell sy eie lewe geneem het nie.”

Die hofgeding het hoofsaaklik op Lorazepam, een van die middels wat deur die dokter voorgeskryf is, gefokus. Lorazepam is ʼn kalmeermiddel wat hoogs verslawend kan wees en ook bekend is onder die handelsnaam Ativan. Dit word vir angslyers voorgeskryf en kan euforie veroorsaak indien dit in groot hoeveelhede geneem word.

Reg deur sy lewe het Cornell openlik gepraat oor sy stryd met depressie en verslawing. Ná sy dood het sy gesin in ʼn verklaring gesê: “Chris, ʼn herstellende verslaafde, het ʼn voorskrif vir Ativan gehad en kon dalk die voorgeskrewe dosisse oorskry het.”

Gates gee miljarde dollar se aandele aan Melinda

Bill en Melinda Gates (Foto: Scott Olson/Getty Images North America/AFP)

Die miljardêr en filantroop Bill Gates (65) en sy vrou, Melinda, het vandeesweek die wêreld geskok met die aankondiging dat hulle paaie ná ’n huwelik van 27 jaar gaan skei.

Nuwe besonderhede oor hoe hulle rykdom verdeel gaan word, het intussen aan die lig gekom. Volgens E! News en SEC-dokumente het Bill vir Melinda meer as 14 miljoen aandele in die Canadian National Railway Company, sowel as 2,9 miljoen aandele in AutoNation, gegee. Dit is altesaam sowat $1,8 miljard se aandele.

Gates, medestigter van Microsoft, is die vierde rykste man ter wêreld met ʼn beraamde netto waarde van meer as $124 miljard, volgens Town and Country.

Melinda is ʼn voormalige bestuurder by Microsoft, wat saam met haar man die Bill and Melinda Gates-stigting in 2000 begin het. Volgens sy webwerf beveg dié nie-winsgewende organisasie “armoede, siektes en ongelykhede regoor die wêreld” en werk om siektes soos vigs, polio en malaria te bestry.

“Nadat ons baie goed daaroor nagedink het en ná baie werk aan ons verhouding, het ons die besluit geneem om ons huwelik te beëindig,” het die egpaar Maandag in ’n gesamentlike verklaring gesê.

“Ons het oor die afgelope 27 jaar drie ongelooflike kinders grootgemaak en ’n fondament gelê wat oor die wêreld heen gebruik word om mense in staat te stel om gesonde, produktiewe lewens te lei,” lui die verklaring.

“Ons glo steeds albei in die missie en sal voortgaan met ons werk by die stigting, maar ons glo nie meer dat ons as ’n paar in hierdie volgende fase van ons lewe kan saamgroei nie.”

Melinda (56) het Bill, stigter van Microsoft, in 1987 ontmoet kort nadat sy by dié tegnologie-firma aangesluit het en die twee is in 1994 getroud.

Bronne: E! News, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.