Jenna Clifford vier 30 jaar in die wêreld van juwele

Jenna Clifford. (Foto: verskaf)

Die glansryke en wêreldberoemde juwelier, Jenna Clifford, se uitmuntende sukses is geskoei op harde werk, ononderbroke deursettingsvermoë en die hande en harte van die mense rondom haar.

Die spoghuis waarin Clifford se Sandton-kantoor is, het oorspronklik aan die miljardêr Douw Steyn behoort voordat Clifford dit 32 jaar gelede gekoop het.

Sy is trots op die tuiste wat sy deur die jare in dié indrukwekkende gebou geskep het. Nie net pronk foto’s van glansryke mense soos Ryk Neethling, Bill Clinton, Serena en Venus Williams teen die mure nie, die kantoortuiste is versier met duursame en treffende beelde, motiveringsboodskappe en skilderye.

“Ons is kunstenaars. Jou omgewing definieer jou vermoëns en jou siel. Baie van ons hier is baie na aan die natuur.”

Teen Clifford se kantoormuur is geskryf dat sy haar intuïsie te alle tye moet vertrou, ʼn boodskap waarop sy haar langdurige loopbaan gebou het.

Die glansryke sakevrou vier vanjaar die 30ste bestaansjaar van haar juweliersakeonderneming, Jenna Clifford. ’n Splinternuwe webwerf is vandeesweek bekend gestel en sy sien uit daarna om aanhangers na die aanlyn ruimte te nooi.

Daar is ook ’n string partytjies wat deur die jaar gehou is om almal die geleentheid te gee om deel van die feesvieringe te wees, want volgens Clifford kan hulle nie hul vriende en volgelinge teleurstel “deur net een partytjie te hou nie”.

Die pad wat die 63-jarige Clifford in haar lewe en loopbaan moes stap, is nie een wat noodwendig strook met die glansryke lewenstyl wat sy nou het nie.

Sy het op 16 haar ouerhuis verlaat ná jare van mishandeling. Clifford het grootgeword in ’n tyd waar vroue onderdruk is, iets wat haar egter nie teruggehou het om sukses na te streef nie.

Boonop het dit reusewaagmoed geverg om haarself in die mansgedrewe entrepreneurswêreld te vestig.

Sy het vroeg in haar lewe besef dat sy ’n dik vel móét ontwikkel en dat dit nie werk om eksterne negatiwiteit met haar eie negatiwiteit te probeer blus nie.

Harde werk is ’n vriend in haar huis en kantoor; ’n lewensleuse wat deur die jare vrugte afgewerp het.

Clifford glo sterk in dít wat vroue kan vermag.

“Die onderdrukking van vroue in ’n aaneenlopende wyse dien nie die land, Afrika of die wêreld nie,” het Clifford passievol aan Maroela Media verduidelik.

“Ek wil vroue wys wat hul waarde is. Ek wil hê dat hulle hul diep, magtige waarde moet verstaan.”

Clifford het ’n passie daarvoor om mense te help en is deur die jare heen met talle welsynsprojekte en -organisasies verbind. Sy is veral passievol daaroor om slagoffers van verkragting te bemoedig en te help.

(Foto: verskaf)

Sy het haar tyd nog meer aan dié soort projekte begin wy nadat haar jongste haar skoolloopbaan voltooi het.

Clifford glo onomwonde daarin dat ouers hul kinders van vroeg af moet voorberei op wat die lewe mag inhou, sodat hulle weet hoe om hulself teen gevaarlike omstandighede te kan beskerm. Daarmee saam glo sy dat elke vrou haarself moet bemagtig deur selfverdedigingslesse te neem.

“Jy moet ’n aanvaller kan plattrek sonder enige wapens.”

Hoewel sy self in ’n sterk vrou ontwikkel het, het sy nie met voorbeelde van sterk vroue grootgeword nie. Nes Clifford, moes haar ma ook die mishandelende aanslae van haar pa verduur het.

Oor haar drie dogters gesels sy baie graag. Sy dra ’n hart van moederlike trots op haar mou.

“Ten spyte van hoe my lewe begin het en die feit dat my hele lewe ’n uitdaging was, het ek ook ongelooflike pakkies vol vreugde ervaar.”

Dekades gelede het tragedie weer aan die wêreldberoemde juwelier se deur geklop toe haar eerste dogter skielik oorlede is.

Die gebeurtenis, vertel Clifford, het byna haar eie dood ook veroorsaak.

“My dogters is die grootste vreugde in my lewe. Die lewe is maar donker en lig, dit is net hoe dit is. Jy gaan ongelooflik sterk moet wees as jy dit alleen wil aanpak, maar dit is veel beter om jouself te omring met mense.

“Maak nie saak watter moeilike tye vir jou in jou lewe wag nie, dit is mense wat jou daardeur gaan dra.”

Nog iets wat die juwelier na aan die hart lê, is diere en natuurbewaring. Sy het ’n woning in Witrivier, en wanneer sy nie besig is om juwele te ontwerp nie, bevind sy haarself in die Laeveld, ’n plek waarheen sy gaan om rustig te word.

Clifford vertel dat sy disleksies is en dat dit reusestruikelblokke in haar skoolloopbaan geskep het. Dit het egter die grondslag gevorm vir haar geloof daarin dat menslike andershede gevier moet word.

Vir haar maak dit nie saak hoe gemarginaliseerd óf bevoorreg iemand grootgeword het nie.

“Wat tussen jou geboorte en jou dood gebeur, is wat saak maak. Jy moet onthou dat jy lewe gegee is en met ’n vrye wil gebore is.”

Clifford, na wie talle mense opkyk, beskou sukses as ’n konsep wat elkeen vir hom- of haarself bepaal en meet haar eie in die volgende uitdaging wat sy aanpak en bemeester.

“Jy is net so goed soos jou laaste sukses. Jy kan nie bloot die glorie geniet van enigiets wat jy gedoen het nie, jy moet dankbaar wees daarvoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.