Luister: Veelsydige Marno vertel oor treffersnit, liedjieskryf

Marno van der Merwe kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Marno van der Merwe is bekend as akteur en het al in verskeie TV-programme en rolprente verskyn, maar dit is sy splinternuwe enkelsnit, “Uit my lyf”, wat tans Afrikaanse gehore laat regop sit.

Die sanger en akteur, wat deesdae die een na die ander treffer saam met sy kleinneef – die sanger Riaan Benadé – skryf, het self dié nuwe ballade geskryf wat tans Afrikaanse musiekliefhebbers bekoor.

Marno het gehelp om oorwurms soos onder meer “Vat ʼn bietjie”, “Rowwe bliksem” en die temalied vir die Solidariteit Beweging se “Ons sal self”-veldtog geskryf.

“Ek en Riaan vertrou mekaar. Ons sal mekaar altyd vra wat die ander een dink van wat ons geskryf het, en dan slaan ons ag op mekaar se insette. Ons werk baie lekker saam,” vertel Marno in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

Marno van der Merwe op die verhoog. (Foto: Facebook/Marno van der Merwe)

“Uit my lyf” is een van drie liedjies wat hy op dieselfde dag geskryf het. “Toe ek die idee kry vir die liedjie het ek geweet dit is iets wat iemand al beleef het, ons almal het al gevoel dat ons ʼn ander persoon net nie kan vergeet of afskud nie. Soos ʼn verslawing.”

Marno erken dit is nie altyd ewe maklik om liedjies te skryf nie en voeg by dat eers ʼn klomp harde klippe  gekap moet word voordat hy uiteindelik ʼn diamant raakboor.

“Soms is ek dadelik geïnspireerd en soms is ek glad nie lus om te skryf nie. Ander kunstenaars se musiek begeester my geweldig.”

Die musiekvideo vir “Uit my lyf” het reeds sowat 27 000 trefslae op YouTube en beeld die storie wat die liedjie vertel uit.

Marno se akteursvernuf het handig te pas gekom vir die musiekvideo. “Dit was bietjie rof toe ek so net na 06:00 in Johannesburg se oggendkoue papnat gespuit word vir een van die tonele, maar dit was ʼn lekker ervaring,” lag hy.

“Ek is lief vir ʼn kamera en om toneel te speel. Ek geniet die gevoel op stel en die kreatiewe veranderinge wat in daardie oomblik gebeur.”

Dit is vir hom belangrik om self die spanne bymekaar te sit wat saam met hom aan sy projekte werk, sê hy.

“Dis altyd lekker as jy saam met lekker mense werk. Ek kies altyd my projekte na gelang van saam met wie ek gaan werk.”

“Uit my lyf” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud met Marno van der Merwe.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.