Min stuit aktrise, akademikus Nicole Holm

Nicole Holm (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

In haar dertigerjare het Nicole Holm se lewe op verskeie maniere verander. Sy is van haar eerste man geskei, sy het die ma van tweelingseuns geword en het deur ʼn lewensveranderende middeljarigheidskrisis, soos wat sy vandag daarna verwys, gegaan.

Dié krisis was as’t ware op die ou einde glad nie ʼn krisis nie, maar die vlammetjie wat die vuur in haar hart weer hemelhoog laat brand het.

Sy is bekend vir haar rolle in reekse soos Die Boekklub, Fynskrif en Donkerbos, waarvoor sy uiteindelik ook ʼn toekenning by vanjaar se Silwerskermfees ingepalm het.

Nicole (49) is vandag nie een oomblik spyt dat haar lewe destyds só ʼn verrassende wending geneem het nie. Sy is tuis, nie net as inwoner van haar grootworddorp Stellenbosch nie, maar ook as ma, aktrise, mentor en akademikus.

30 en ongelukkig

Nicole was destyds reeds ʼn gevestigde aktrise en dosent aan Universiteit Stellenbosch toe haar lewe tot halt geroep is. Sy was ongelukkig – niks meer of minder nie. Sy het ook geweet dat sy binnekort ʼn drastiese verandering in haar lewe gaan móét maak, want so sou dit nie kon aangaan nie.

“Ek het dit wat ek gedoen het gehaat en bloot gedoen omdat ek moes. Ek het in daardie stadium nog min televisiewerk gedoen,” vertel sy aan Maroela Media waar sy in een van haar gunsteling-restaurante in Stellenbosch, Casa Cerveza, sit – ʼn klipgooi van dié universiteit waar sy vandag steeds klasgee.

Dit is toe dat sy besluit het om sielkunde te begin studeer, en alhoewel sy nege jaar later wel met ʼn graad en honneursgraad in sielkunde beloon is, het sy geweet – sy gaan toneelspel nimmer as te nooit vaarwel kan roep nie.

“In die nege jaar waartydens ek studeer het, het ek besef dat sielkunde toe nou nie die lig aan die einde van my tonnel is nie, hoewel ek vandag baie dankbaar is dat ek dit wel studeer het.

“Dit het my passie vir die akademie, en ʼn nuutgevonde leergierigheid aangewakker. Ek was nog altyd nuuskierig, maar nadat ek sielkunde studeer het, wou ek net meer en meer leer. Dit is juis waarom ek intussen ook my meestersgraad in drama voltooi het.

“Dit het my ook ʼn beter dosent gemaak, en ek het my werk weer begin geniet.”

In ʼn mate, sê sy, loop daar ʼn fyn, goue draad regdeur haar liefde vir toneelspel en haar belangstelling in die menslike psige.

“Akteurs is inherent nuuskierig. Enige kreatiewe mens moet nuuskierig wees. Toneelspel gaan beslis oor menswees – toneelspel en sielkunde is twee kante van dieselfde muntstuk, op ʼn manier. Ons hanteer dit net anders.”

Nicole is vandag eerder agter die skerms as regisseur of voor ʼn klaskamer vol studente te sien, as op die verhoog. Dit is waar haar passie lê, en hoewel sy toneelspel beslis nog terdeë geniet, ag sy haar werk as dosent as een van haar belangrikste prioriteite. ʼn Nuwe projek moet werklik interessant vir haar wees voordat sy sal instem om haar studente vir ʼn paar dae te verlaat.

Donkerbos was een van dié projekte.

“Ek kon eenvoudig nie die tekste ophou lees nie. Dit was net ʼn wonderlike ervaring, van die lees van die teks tot die verfilming. Om dan nog beloon te word met ʼn toekenning is die kersie op die koek.”

ʼn Stellenbosser sal sy bly

Gebore en getoë in dié Wes-Kaapse dorpie, weet Nicole dat sy nooit iewers anders sal wil bly nie. Dit is haar geboortedorp, grootworddorp en ook nou die dorp wat haar seuns, Wouter en Rossouw (11), huis noem.

“Dit is heerlik om hul ma te wees, hoewel die eerste jaar hel was,” skerts sy.

“Hulle is nou tweens, en die een is voluit op pad tiener toe. Is ʼn mens ooit gereed vir daardie jare?”

Wanneer sy oor haar geliefde Stellenbosch praat, neem die gesprek ʼn natuurlike wending na haar studente.

“Deur party moeë, donker en mismoedige tye, kyk mens na hierdie 18-, 19- en 20-jariges en hul zest for life. Jy sien hulle optimisme.

“En jy weet, dit is kinders wat tydens die Covid-19-pandemie nog in die skool was. ʼn Mens kan nie dink dat hulle so positief moet wees nie, maar tog is hulle.”

Dit is juis dié generasie se veerkragtigheid wat Nicole laat glo dat die toekoms van die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf blink is. Hulle het ʼn aaklige paar jaar agter die blad, sê sy, veral as ʼn mens in ag neem hoeveel dinge van hulle af weggeneem is weens die moeilike omstandighede.

“Hulle moes reeds soveel verlies in die gesig staar, en om dan steeds so veerkragtig en optimisties te bly, om met soveel mojo aan die anderkant uit te kom, wil gedoen wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.