‘Three’s Company’-aktrise sterf

Suzanne Somers. (Foto: Instagram/@suzannesomers)

Die Amerikaanse aktrise en fiksheidsghoeroe Suzanne Somers het Sondag in die ouderdom van 76 gesterf ná ʼn lang stryd teen aggressiewe borskanker.

Sy sou Maandag haar 77ste verjaarsdag gevier het.

“Suzanne was omring deur haar liefdevolle man, Alan, haar seun, Bruce, en haar onmiddellike familie. Haar familie was saam om haar 77ste verjaardag op 16 Oktober te vier. In plaas daarvan sal hulle haar buitengewone lewe vier, en wil haar miljoene aanhangers en volgelinge bedank wat haar innig lief gehad het,” lui ʼn plasing wat Sondag op Somers se Instagram-profiel gedeel is.

Somers is in reeds in haar 30’s met melanoom, ʼn tipe velkanker, gediagnoseer, en is in haar 50’s vir die eerste keer met borskanker gediagnoseer, maar dit was ná behandeling in remissie.

Sy het in Julie vanjaar op sosiale media aangekondig dat dit egter teruggekeer het.

“Ek weet hoe om my gevegsuitrusting aan te trek en ek is ʼn vegter,” het sy op Instagram geskryf.

Somers in die 1980’s. (Foto: Instagram/@suzannesomers)

Die blondekop aktrise was veral bekend vir die rol van Chrissy Snow in die televisiereeks, Three’s Company, waar sy later afgedank is nadat sy op dieselfde salaris as haar manlike medeakteur, wyle John Ritter, aangedring het.

Sy het ook die hoofrol vertolk in die reeks, Step by Step, en was later ook aanbieder van die poetsbak-program, Candid Camera.

Buiten haar toneelspelloopbaan het Somers veral in die 1990’s ʼn naam vir haarself in die fiksheidwêreld gemaak en die gesig van die tuisoefentoestel, die ThighMaster, geword.

Sy het deur haar loopbaan verskeie selfhelpboeke oor onderwerpe soos welstand, gewigsverlies en teenveroudering vrygestel, en in 2019 haar eie skoonheidshandelsmerk bekendgestel.

Bronne: BBC, CBS News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.