Afrikaanse fliek oor vriendskap, tweede kanse binnekort in fliekteaters

Lika Berning, June van Merch en Illse Roos by ‘n vertoning van #Lovemyselfie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Ná ʼn rits suksesvolle buitelugvertonings gaan die Afrikaanse rolprent, #LoveMySelfie, eersdaags op die groot skerm te sien wees.

In dié komedie gryp die plaaslike televisiester, Adele Swan (vertolk deur Illse Roos), ʼn geleentheid aan om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig van George die eiendomsmagnaat se veldtog, naamlik ʼn kompetisie op die luukse plesiervaart, die MSC Sinfonia, te word.

Akteurs soos June van Merch, Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith vorm ook deel van die swaargewigrolverdeling, terwyl Lika Berning van Liefling-faam die regie behartig.

#Lovemyselfie belowe pure vermaak, maar met baie hart.

“Die fliek gaan oor vriendskap, vergifnis, selfontdekking en susterskap – dis almal universele temas. Om boonop in hierdie dag en eeu vier middeljarige vroue te hê wat ʼn fliek dryf, is net ʼn absolute plesier,” het Illse voorheen aan Maroela Media oor die rolprent gesê.

Illse Roos en Hélène Truter in aksie. (Foto: Instagram/@lovemyselfie)

#Lovemyselfie maak ook geskiedenis as die eerste Suid-Afrikaanse rolprentspan om ʼn fliek op ʼn MSC-plesierboot te verfilm.

“Ons kan nie wag dat gehore binnekort #Lovemyselfie in teaters sal kan ervaar nie. Daar is nie ʼn beter manier om ʼn fliek te geniet as in ʼn donker fliekteater sonder afleidings nie. Ons hoop dat mense weer die ervaring van fliek-toe-gaan sal herontdek,” het Lika oor #Lovemyselfie se grootskermdebuut gesê.

Die fliek sal vertoon word by uitgesoekte Nu Metro- en Ster-Kinekor-teaters oor die hele land, waaronder Nu Metro Ballito, Boardwalk, Canal Walk, Clearwater, Loch Logan, Menlyn Park, Woodlands, Welkom en Worcester, asook Ster-Kinekor Brooklyn Mall, Garden Route Mall, Somerset Mall en Tygervalley, en by die Movies@-groep se The Ridge Casino en Silver Star Casino.

“Ons is opgewonde oor die vrystelling van #Lovemyselfie. In die lig van die veranderende mark ná Covid-19 het Nu Metro die noodsaaklikheid besef om die plaaslike bedryf te ondersteun. Ons hoop dat hierdie fliek by gehore sal aanklank vind en die ondersteuning sal kry wat dit verdien,” het Melanie Williams, hoof van bemarking by Nu Metro oor dié nuus gesê.

Kaartjies is reeds aanlyn by Nu Metro en Sterkinerkor beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.