Fliekresensie: ‘Beste Spidey-animasiefliek nóg’ slaan jou katswink

SPIDER-MAN: ACROSS THE SPIDER-VERSE   
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met die stemme van Shameik Moore en Hailee Steinfeld
Regisseurs: Joaquim Dos Santos, Kemp Powers en Justin K. Thompson
Beperking: Niemand onder 13 (taal, geweld)

‘Nou het dié resensent voorwaar die kluts kwytgeraak’, is seker die mening wanneer die 9/10 agter die animasiefliek, Spider-Man: Across the Spider-Verse, verskyn.

Dit word egter wêreldwyd beskou as die beste animasiefliek ooit, veral uit die Marvel-stal, en het $120 miljoen (sowat R2 miljard) in drie dae in die VSA by die loket verdien.

Moet asseblief nie die gewone, kindervriendelike Tom Holland-Spider-Man verwag nie. Hier is animasie wat so oorweldigend is, jy mag katswink uitstrompel. Onthou ook, Spider-Man: Across the Spider- Verse, is te oorrompelend vir kinders onder 13.

Hier blits nuwe tonele met oorbluffende aksie, klank, kleure en beweging feitlik elke drie sekondes vir twee uur en twintig minute lank oor die skerm. Meer as 1 000 illustreerders het aan die tekeninge gewerk.

Daar is verskeie Spider-Mans in ses heelalle in hierdie rolprent wat gaan oor: om jou eie stem as jong zilleniër te vind, dis nou jonges van omtrent 13 plus; hoe om jou eie lotgevalle te bepaal; die held of heldin in jouself te vind; ultra-koel te wees; en te verstaan hoe om gesag en ouers te hanteer.

(Foto: IMDb)

Alles word natuurlik in ʼn byderwetse, maar veral oorweldigende rits prentjies vertel waarby die oog beswaarlik kan byhou.

Jy gee later as volwassene oor, maar kinders bo 13, veral aanhangers van die Spider-Man-strokiesprente, of die Spider-Man-animasie van 2018, sal saam met Miles en Spider-Woman tussen geboue en deur die ruimte rinkink.

Dit verander jou siening van helde, en selfs Spider-Man, vir altyd. Dis net vir Spider-Man-slawe en jonges wat besig is om ʼn identiteit te vind.

Spider-Man: Across the Spider-Verse, 9/10, nou in teaters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.