JOHN WICK CHAPTER 4
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Keanu Reeves en Ian McShane
Regisseur: Chad Stahelski
(Slegs in teaters)
Die wêreldwye gradering van hierdie magtige orgie vir die oë, die uiters gewelddadige John Wick: Chapter 4, kry wêreldwyd beter resensies as menige Oscar-wenner.
Die meeste resensente, en veral millenniërs en koel jonges bo 18, is versot daarop. Kyk maar na die Rotten Tomatoes en IMDB-graderings. Toegegee, die gevegschoreografie, veral in Parys se Arc de Triomphe en Sacre Coeur-toneel is verbysterend.
Geweld-danse waar lyke soos sterre deur die hemelruim ballet en meer koeëls klap as wat daar trompette op die klankbaan speel, is uitmuntend gedoen. Enigiemand wat sensitief is vir geweld waar sommige gevegstonele langer as ʼn halfuur duur, moet beslis weet dat hulle erge, uiterste geweld gaan sien.
Wat in die fliek se guns tel – in elk geval, veral die eerste fliek – is dat John Wick (Keanu Reeves) so ʼn doodgewone ou was wat maar net kwaad was vir boelies wat diere seermaak. Toe word hy ʼn Jan Alleman-engel van wraaksugtigheid, wat herhaaldelik duisende koeëls, messteke, vuishoue, karateskoppe, rugbreek-gevegte en ondersteboval-skokke maklik oorleef in daardie netjiese swart pakkie van hom.
Dis nou super-vermaak vir die massas, vir geweldslawe of enigiemand wat videospeletjies speel, of boks of karate doen. Hulle juig gedurende die bloedbaddens.
John Wick: Chapter 4 is nie vir sissies of sensitiewes nie. Dis hardebaard-skuurpot-vermaak wat jou later oorversadig, selfs vermoeid, van die geweld maak. Al wat jy van die storie hoef te weet is dat John Wick die High Table moet uitoorlê, veral die grieselrige Billy Skarsgård as die Marquis.
Jy is nie koel, of jonk en jeukerig, as jy nie van John Wick: Chapter 4 hou nie.