Fliekresensie: Videospeletjie-fliek sal tieners in vervoering hê

DUNGEONS & DRAGONS: HONOR AMONG THIEVES
⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Chris Pine en Michelle Rodriguez
Regisseurs: Jonathan Francis Daley en Jonathan Goldstein
(In teaters)

Twee regisseurs en genoeg supersterre om die melkweg te vul. Drake, grafkelders, vuurspuwende berge en ʼn miniatuur Bradley Cooper. En, o ja, lopende breins en ʼn moorddadige uilskuiken.

Voeg daarby ʼn skeermesbek, stywelip Hugh Grant en Chris Pine in klere wat netjies genoeg span om te spog met ʼn gespierde lyf, en jy het ʼn voel-goed avontuur wat op die videospeletjie geskoei is.

Onthou, Dungeons and Dragons: Honor Among Thieves, is erg gemiddeld. Moet dus nie supersoniese effekte verwag wat jou in sy oorvloed gaan verdrink nie, of wat naby Shazam! kom nie. Dis ʼn middelmatige storietjie, maar met genoeg aksie om tieners bo 13 in die paadjies te laat kaperjol van plesier, en selfs jou voete te terg om saam te dans. (Miskien liefs nie Oupa en Ouma nie!)

Dungeons & Dragon: Honor Among Thieves gaan oor Chris Pine, ʼn gevatte avonturier wat gedurig die regte ding op die regte tyd sê. Hy soek na ʼn skat én sy dogter in Drakeneiland. ʼn Bende gedugte en kleurvolle karakters gaan saam, en trotseer elke denkbare avontuur wat nog deur draaiboekskrywers opgetower is.

Regé-Jean Page en Chris Pine in ‘Dungeons and Dragons: Honor Among Thieves’. (Foto: IMDb)

Mense wat dié videospeletjie ken, sal weet dat hulle ʼn karakter moet kies om mee te identifiseer. Daar is bewys dat dit terapeuties kan wees. As jou terapie so ver strek as botter of sout-en-asyn oor jou springmielies, mag jy bokspring van lekkerkry, al is die fliek maar so-so.

Dis beter as om gedurende die langnaweek tuis te bly en Whatsapp te lees wat sê: `Wens jy was hier saam met ons in ons luukse lodge!’ Jy kan tong uitsteek en terug met jou duime dans: “Ek sien tog ʼn lekker moewie!”

Dungeons & Dragons: Honor Among Thieves kry 6/10. Slegs in teaters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.