Fliekresensie: Vin se 10de ‘voet-innie-hoek’-fliek bevredig aksievrate

THE FAST & FURIOUS 10          
⭐⭐⭐⭐⭐/10    
Met Vin Diesel en Jason Momoa
Regisseur: Louis Leterrier
(In teaters)

The Fast & Furious 10 het genoeg testosteroon om die hele Loftus Versfeld te vul, en meer woema as wat ʼn honderd sportmotors op die teer kan hou.

As jy gedink het die Fast and Furious-reeks se vorige nege hoofstukke, en die nabootsing of spinoff, het baie motors skrootwerf toe gestuur, wag vir nommer tien.

Wat ʼn reuse rollende bom-bal nie vernietig nie, sal motors wat deur die lug vlieg ruïneer. Mens gaan kyk nié na die tiende hoofstuk vir die storie nie, maar vir Vin Diesel se biseps, Jason Statham se kortaf basstem, Charlize Theron se bene, Michelle Rodriguez, wat nog meer diesel in haar tenk het as Vin, en natuurlik vir Jason Momoa.

Momoa as Dante, uit Dominic Toretto se verlede, is Diesel en kie se mees gedugte teenstander. Hy is flambojant, kleurvol, met meer hare as dertien skaaphonde, en ʼn koel houding wat skrik vir niks.

Vin Diesel en Daniela Melchior in ‘The Fast and Furious 10’. (Foto: IMDb)

Hy het ʼn appeltjie met Toretto te skil vir wie hy baie gas gee, en honderde motors, en selfs Rome word in die proses vernietig; om nie te praat van die helikopters nie.

Vin Diesel raak eers regtig wakker wanneer hy voet in die hoek sit. Dus sal aksievrate meer as genoeg kry, maar The Fast & Furious 10, in die buiteland genoem FAST X, is nie die beste aflewering in hierdie onweerstaanbare reeks nie.

Gaan kyk dit as daar nié die naweek rugby is nie. Jy sal net soveel testosteroon-besmette aksie kry. The Fast & Furious 10 mag dalk nie goed wees nie, maar dit is opwindend. In teaters. 5/10

  • Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.